Daar gebeur dit
toe nou: Iemand gaan "klik" (lees: spog) by Beeld oor die dinge wat ek kwyt raak... Wie jy ook
al was wat vir Beeld laat weet het – baie dankie! Jy’t my week gemaak.
So kry ek ‘n
e-mail van ene Jeanelle Greyling, Redakteur van Metro-Beeld-Suid:
“Ek was regtig
beïndruk met jou unieke stem wat so sterk oorkom in jou nuutste blog. Soveel
so, ek sal graag 'n berig oor jou wil skryf vir Beeld se nuwe lesersreeks ‘My
Wêreld: Lesers vertel’.” Skryf sy.
Ek loop die res
van die dag met ‘n smile op my gevreet. As ek by ‘n vertrek inloop moet ek
skuins draai, want my kop is toe nou so groot dat ek nie kan reguit ingaan nie.
Almal met wie ek in
aanraking kom, moet eers hoor Beeld wil ‘n onderhoud met my voer...
Ek gaan gooi
petrol in:
Ek: “Hallo. How
are you? Can you believe Beeld wants to interview me!?”
Petrol joggie: “Hau!
How much?”
Ek: “Uhm... R500,
93 please.”
Ek gaan koop
brood en melk:
Kassier: “That
will be R30.95, Sir.”
Ek: “Beeld wants
to interview me! Can you believe it?!”
Kassier “...?”
So loop ek breë
bors die hele dag rond en dink ek’s die beste ding wat gebeur het sedert die
uitvinding van die wiel.
Totdat iemand
uiteindelik vir my vra: “O. Dis nice. Waaroor?”
“Oor... Uhm...
wel... hmm.”
Oepsie... Daar’s
die wind uit my seile!
Die realiteit
tref my uiteindelik: Ek is ‘n ou poepsnuiter-niks-en-niemand... Wat gaan Beeld
moontlik oor my kan skryf?
“Hierdie is
Riaan. Hy kan lekker kak praat.”
Ek sien al in my
geestesoog hoe ek en Jeanelle in awkward stilte sit en wonder wat om vir mekaar
te sê, totdat sy haarself met ‘n droë kug verskoon wanneer sy uiteindelik haar
fout besef.
Die dag van ons
afspraak kom al hoe nader... Wat het my besiel!? My maagsweer word al hoe
groter. Die blou kringe om my oë trek al by Navy blou. EK lê in die nag wawyd
wakker – dis onmoontlik om te slaap! Ek probeer skape tel, maar my kop werk mos
nie lekker... “Een skaap. Twee skape. Vark. Koei. Old MacDonald. Hey Macarena!”
Sug.
Hoe werk ‘n
onderhoud met ‘n joernalis? Wat sê mens? Wat doen mens? Moet ek my kisklere
aantrek? Dit voel of ek op ‘n first date gaan. In dekades nie een van daai
gehad nie, so ek weet ook nie eers meer hoe om dit te doen. First date? Wat
praat ek?! Duidelik nie lekker in my kop nie. Maar ons weet dit mos nou al
lankal.
Dalk moet ek maar
kanselleer?
Nee! Dis ‘n
geleentheid en ‘n avontuur. Al het sy dan nou nie genoeg om eers ‘n paragraaf
te skryf nie, kan ek ten minste sê “Pft. Done that. Got the T-shirt. It didn’t
fit, but whatever.”
Uiteindelik breek
die groot dag aan. Gelukkig is die onderhoud by my huis, so ten minste speel ek
op die tuisveld. 17:15 breek aan en ek ontmoet Jeanelle by die hek.
Ek is verras. ‘n
Bloedjong dametjie, modern aangetrek kompleet met notaboekie soos dit ‘n
joernalis betaam. (In my gedagtes was dit ‘n juffrou Rottenmeier vrou wat oor
haar bril op die punt van haar neus loer opsoek na al die juicy skandale... Toe
nou nie.) Sy groet vriendelik en haar oop, vriendelike gesig laat my dadelik op
my gemak voel.
Sy’t eintlik
gekom vir koffie, maar ek dog, fok dit, as ons wil lekker chat, gaan ons moet
wyn. Wyn is altyd die antwoord. (Ten minste tot jy more oggend wakker word en
die realiteit jou weer tref.)
Ek bied wyn aan en gelukkig laat sy haar ook nie twee keer nooi nie -
onmiddelik hou ek sommer baie van haar. Ek gooi wyn, sy haal haar foon
uit en begin ons gesprek opneem... Hier is dit nou... Die omblik wat ek my naam gaan vergat.
En ons begin
praat.
Dis toe nou glad nie so ‘n stywe affêre wat ek gedag het nie. Ons kekkel
soos ou vrinne. Sy vra my uit oor wie, wat en hoekom ek is, en ek vra haar oor
haar beroep en lewe en die media.
‘n Mens ken nie
die stemme agter die koerantberigte wat ons daagliks lees nie. Ons sien net ‘n
“steriele”, neutrale koerantberig en besef nie altyd dat daar ‘n mens met
opinies, emosies en frustrasies agter die berig staan nie. Mense wat dag na dag
- telkemale na ure - moet rondry, skryf en navorsing doen om vir ons die
waarheid en feite te bring. Hulle het ook meer met “daai deel” van die samelewing
te doen – die wille wragtigs en hooligans... (Mense soos ek byvoorbeeld.) Dit
is eintlik ‘n fassinerende wêreld waarmee ons as publiek bitter min te doen
kry.
Ek weet nie of
dit die wyn was en of Jeanelle net so ‘n goeie joernalis was om my so op my
gemak te laat voel nie; maar op ‘n stadium begin ek sommer met my diepste
geheime en seer te koop loop. Telkemale besef ek, ek het nou weer vinniger
gepraat as wat ek dink, dan moet ek vinnig “off the record” hier bo haar foon sê,
wat steeds onbevooroordeeld elke woord opneem. In die movies sê die mense mos
altyd vir die joernaliste “off the record” as hulle nie iets mag publiseer nie.
Ek weet nou nie of dit in die regte lewe ook so werk nie... (En ek het ook nie eers een keer gevloek
nie! OK, OK ek het gevloek, maar nie baie nie. Ten minste klein bietjie minder
as gewoonlik. My Ma sou amper trots gewees het... Amper.)
En so chat ons
vir ‘n uur lank en dit was actually ‘n awesome ervaring... Dit is ‘n absolute
voorreg om gekies te gewees het vir ‘n artikel in Beeld. Ek is steeds nie
oortuig dat ek interessant genoeg is dat enige iemand die berig gaan lees nie,
maar nietemin kan ek nederig sê baie dankie vir die geleentheid. En ook dankie
aan Jeanelle wat haar so goed van haar taak gekwyt het. Sy trek nou maar eers
op 25 lewensjare, maar om alreeds ‘n redakteur te wees sê vir my sy gaan nog
ver kom. I’ll be watching that space!
Maar die heel
belangrikste is ‘n GROOT dankie vir elkeen wat die tyd maak om my weird,
deurmekaar gedagtes te lees. Ek weet ek skryf sulke langdradige mini-novels.
Dankie dat julle die moeite doen om dit te lees en te sê wat julle dink!
Aangeheg is die
eindresultaat van die ervaring. My 15 sekondes van fame. (Click om groter te maak.)
0 comments:
Post a Comment