Thursday 11 October 2018

Wat sê jou kar van jou? – Wie is die idiote en wie is die awesome mense op ons paaie?


Sedert ek die arme ou Fortuner tannies uitgehaal het, het ek vele versoeke gekry om ander fabrikaat karre se bestuurders ook “te doen”. (Ek sien daar is skielik baie Fortuners te koop. But why? 😉
Ek weet nou nie of is mense sadiste (suckers vir punishment) en wil hulle net graag die waarheid oor hulself  hoor nie. Of dalk het almal net ‘n goeie sin vir humor en is nie bang om vir hulself te lag nie...? Ek wil graag glo dis laasgenoemde.

Ek sal heel waarskynlik ‘n hele boek kan skryf oor Suid-Afrikaanse bestuurders, maar om prakties te wees gaan ek net kortliks na al die mense op ons paaie kyk en almal met sulke breë stroke onder dieselfde kam skeer gebaseer op watter karre hulle ry. Ridiculous, ek weet... Tog...? 
Here goes:




Alfa Romeo bestuurders: Ek weet nie veel van hierdie mense nie, want daar is nie veel van hulle nie. Jy sien hulle nooit op die pad self nie. Hulle staan altyd langs die pad met die bonnet oop – ‘n wolk stoom of rook wat oor die kar hang. Of op tow trucks oppad werkswinkel toe. Hulle los sulke groot oliekolle waar hulle gaan, soos ‘n hondjie wat sy gebied merk. Net om te wys hulle was daar.



Audi bestuurders: Hulle is snobs. Hulle loop en vertel egter nie vir iemand hulle is snobs nie. Jy besef nie hulle is snobs totdat jy hulle in die Audi sien klim nie. Alhoewel hulle ook ‘n liefde vir Duitse kwaliteit en standaarde het, is hulle is nie “in your face” soos BMW bestuurders nie en bestuur beter as Mercedes eienaars. Hulle is gewoonlik baie aangename mense, maar dan ook ek ken vetplante met interessanter persoonlikhede.



Bakkie bestuurders. Ons kan baie sê oor hierdie ouens. Toyota Hilux, Ford Ranger, Volkswagen Amarok, Nissan Hardbody Ooms. Jy mag onder geen omstandighede ‘n slegte woord sê van ‘n man se bakkie nie. Elke ou glo sy maak bakkie is die beste ooit. Al die ander bakkie make is sommer net kak. Punt. Klaar. Net soos wat jy nie politiek of Bybel-sake om die braaivleisvuur praat nie, praat jy ook nie bakkies om die braaivleisvuur nie. Te veel vriendskappe het al so geëindig. (Daar is natuurlik ‘n direkte verband tussen trotsheid oor jou bakkie en die volume Klippies wat geniet is.)
Die grootte van ‘n bakkie se wiele, die dikte van die bullbar en rollbar en die grootte en hoeveelheid van die spotlights is eweredig gelyk aan hulle manlikheid. Hoe groter en meer modifikasies op die bakkie hoe groter van ‘n man is hy. Of so dink hy. Ons weet egter dat hulle probeer kompenseer vir iets. Ek self weet nou nie vir wat presies nie, dalk kan hulle vroue vir ons vertel?
Op skoolgronde agter die fietsloods is daar telkemale vuisgevegte tussen seuntjies oor wie se pa se bakkie die beste is.

Bakkie bestuurders mag net in die vinnige baan ry op die snelweg, selfs al gil die enjin histeries om 130 km/h te hou. Hulle is onder die indruk dat ‘n bakkie gemaak is om vinnig te ry. Hulle is verkeerd. Jy herken ‘n bakkie eienaar maklik as jy in die straat verby hom stap. Hy het gewoonlik iewers iets aan wat kakie is en hy loop met sy arms so wyd soos ‘n Cowboy, asof hy twee boerpampoene dra wat hy nie agtergekom het hy verloor het nie. ‘n John Deere oopknoop hemp is ‘n dead giveaway – 99.9% van die tyd ‘n Hilux eienaar.

Oor die naweek sien jy die bakkie by die mall staan. Maandag oggend as jy verby hom ry werk toe, dan het die bakkie sulke designer modder op. Maar jy verstaan dit nie, want jy weet voor jou heilige siel daai bakkie het nog nooit in die geskiedenis van tyd ge-off-road nie. 

Daar is altyd ‘n Kurt Darren, Bok van Blerk of Sokkie Treffers # 29 CD wat speel in ‘n bakkie.
Bakkie eienaars is so deel van die Afrikaner kultuur soos koeksisters, biltong en oulike meisies. Ons kan nie ons lewens voorstel sonder hierdie ouens om ons nie. Die Afrikaner meisies se knieë raak lam oor ‘n boerseun wat ‘n lekker bakkie ry, selfs al weet sy die boerseun sal nie weet hoe ‘n actual koeispeen werk nie of watter mielie-kultivar perfek is vir droë gebiede nie. ‘n Baard is ‘n bonus en blykbaar die toppunt van manlikheid. As die bakkie oom ‘n Isuzu ry is die kans baie goed dat hy die ware Jakob is wat actually op ‘n plaas bly. Vra vir hom of nuwe kultivars meer stikstof opneem ná baardverskyning as ouer kultivars, om seker te maak. Vra hom dan gerus om sy .303 vir jou te wys.
As jy ‘n vrou sien wat ‘n Hilux bestuur, vlug vir jou lewe. Hulle het jare terug die Dakar Toyota advertensie gesien, en nou dink hulle almal hulle is besig met ‘n Dakar resies. Vlug!!



BMW bestuurders: Ek is bang om iets te sê oor BMW bestuurders want hulle word woedend as jy hulle foute uitwys. Ek gaan waarskynlik nog eendag deur ‘n BMW bestuurder gebliksem word. Almal het ‘n suur houding teenoor BMW bestuurders, maar BMW eienaars voel f-all wat ander mense van hulle dink. Hulle weet hulle besit die toppunt van Duitse vakmanskap en tegnologie. H
ulle het baie geld betaal vir hulle karre, wat beteken hulle besit alleenreg om die paaie te gebruik – dit staan so in die gebruikershandleiding.
As die poephol voor hulle nie onmiddellik wegtrek as die verkeerslig groen toe oorgeslaan het nie, dan toet hulle. As hulle gemaklik teen 180 km/h op die snelweg cruise, en jy nie vinnig genoeg padgee uit die vinnige baan nie, gaan hulle vir jou hulle ligte flash. BMWs kom nie standaard met flikkerligte uit nie, maar selfs as hulle dit as ‘n optional extra gevat het, gebruik hulle dit nie want flikkerligte is net vir kommen mense. 
Die ANC regering en die Mafia is mal oor swart BMWs – en dit behoort vir jou alles te sê wat jy wil weet.



Chana, Chery, FAW, Geely, GWM, Haval eienaars – Hierdie mense is vreesloos. Hulle is bereid om baie billike pryse te betaal vir ‘n fabrikaat wat g’n mens al ooit van gehoor het nie, maar dalk iewers op ‘n take-away menu gesien het. Hulle hou van dobbel of is adrenalien junkies. Gaan die kar - wat deur either kinderarbeid of ‘n weermag van robotte in China gebou is - na 100 kilometer uitmekaar uit val? Of gaan dit ry vir ‘n miljoen kilometer sonder om eenkeer ‘n rook wolkie uit te poep? Niemand weet nie. Hierdie mense is die suckers wat vir ons gaan uitvind wat die antwoord is. Alhoewel ons nou vir hulle giggel, gaan ons moontlik oor 10 jaar met ontsaglike respek na hulle verwys as die baanbreker helde.



Chevrolet eienaars. Die arme mense. Eers lei Chevrolet aan ‘n identiteitskrisis – is dit eintlik glorified Opels? Is dit eintlik Amerikaanse motors? G’n mens was nou eintlik seker nie. 
Volgende oomblik sê Chevrolet vir die mensies “Sorry, julle is nou op julle eie. We’re outta here!”
Die arme mense voel soos iemand wat by die matriekafskeid gelos is vir ‘n ander meisie. Hulle het heel skaflike motors, maar niemand stel meer belang in hulle nie.



Citroën eienaars – Haai shame. Ek’s so jammer. Better luck next time.



Ford bestuurders. (Sien ook Honda, Mazda, Nissan, VW en Toyota bestuurders.) Alhoewel dit bietjie senutergend is om naby ‘n Ford te ry, want die ding kan mos spontaan aan die brand slaan. (Die opmerking sou dalk bietjie snaakser gewees het 2 jaar terug toe ons marshmallows gebraai het oor Ford Kugas.) Ons moet darem Ford bestuurders gelukwens dat hulle jare se kommengeit afgeskud het deur dat hulle opgehou het om Ford Escorts en Sierras te ry. Hulle was dalk destyds interessanter mense as nou, maar ten minste kan ons nou langs ‘n Ford in die verkeer staan, sonder om onsself vir hulle te skaam.
 
Fortuner tannies. Ek het al genoeg oor hulle gesê. Yummy mammies. Hulle is egter nie beperk tot Fortuners nie. Jy sien hulle ook in BMW X-reekse, Mercedes G-reekse, Ford Everests of Land Rovers (Evoque of Discovery).


Honda, Mazda, Nissan, VW en Toyota bestuurders – Ai. Sug. Hierdie mensies is net daar om ons paaie vol te maak. Hulle is orals. Hulle koop elke keer ‘n nuwe model van presies dieselfde kar met die wete dat die karretjie kilometer na kilometer hulle getrou gaan bring na waar hulle wil wees. Hulle gee nie om of daar beter motors vir baie goedkoper is nie. Die mense hou van betroubaarheid en sekuriteit. Hulle is bang vir verandering en opwinding. Hulle wil tog net nie anders wees nie. Hulle Pa’s het so kar bestuur. Hulle Oupas het so kar bestuur. Hulle Oupagrootjies het so kar bestuur. Hulle is die rekenmeesters en liasseerklerke van die lewe. Hulle is egter baie lojale vriende. Hulle is ‘n gevaar op die pad omdat die res van ons aan die slaap raak as ons in hulle vervelige Polos, Corollas en Ballades moet vaskyk. Ek raak skoon aan die slaap van verveeldgeit soos ek die skryf.



Hot Hatch snotkoppe – (Dis toe nou ook die kategorie waarin ek val). Dis “jong” latte wat tog so graag ‘n sports kar wil ry, maar nooit ‘n proper sportmotor sal kan bekostig nie. Jy hoor hulle aankom, lank voor jy hulle sien – gewoonlik Techno musiek. Doeftsjie-doeftsjie-doeftsjie. Jy weet sommer hoe hy lyk voor jy hom sien. Arm wat hier by die venster uithang wat die karretjie styf vasknyp asof die ding van hom af gaan wegkom.
Daar is 2 soorte hot hatch eienaars. Die wat ‘n 1982 Golfie se suspension ge-drop het, ‘n industrial size exhaust opgesit het, ‘n Ford Sierra V8 enjin ingesit het met ‘n paar spiff mags. Die sound system is meer werd as die karretjie. By die robot staan en rev hy die enjin, en as ‘n BMW M3 langs hom stop, dan wys hy na die wollerige dice toe wat aan die spieëltjie hang en rev sommer ekstra hard. Hy wen gewoonlik die B’M, maar die naweek staan die karretjie weer op blokke want die piston het weer ‘n ball bearing geslaan na die laaste dice. (Ek weet nie of is daai regte terme nie, maar ek’s seker ek het hulle al so hoor praat...) Die res van die week moet hy maar met die werk se panelvan rondry.
Die ander klomp het “regte” hot hatches. Ford ST’s, Civic R’s, Golf GTI’s en Meganes RS’s. As jy die woord ‘Yuppie’ opsoek sien jy die klomp se foto. Hulle is stadsjapies wat zig-zag van rooi robot na rooi robot deur die karre jaag. ‘n Ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur. Hulle is seker haastig op pad gym toe? Jy hoop maar jou dogter date nie eendag een van hulle nie. Alhoewel hulle enige iets van 20 tot 45 jaar oud kan wees, is hulle niks anders as stoutgat seuntjies nie.



Hyundai en Kia bestuurders: (Sien Honda, Mazda, VW en Toyota bestuurders.) Daar was ‘n tyd wat hulle interessant en baanbreker helde was, maar nou raak ons ook maar bietjie aan die gaap as ons aan julle dink. Hulle is medium mense. Hier en daar is daar een wat ‘n Kia Soul ry, en hulle het meer persoonlikheid as wat goed is vir een mens.



Iemand se ouma. Dis gewoonlik een van daai 19-toet roomkleurige Mercedes’e – die grootte van ‘n vragskip - of ‘n bruin 1987 Toyota Corolla. Jy skrik eers as jy die kar sien en dink niemand bestuur die kar nie, totdat jy die gryskop tannietjie tussen die stuurwiel en dashboard sien deurloer. Sy kyk nie links of regs of in die spieëltjie nie – net reguit vorentoe. Langs haar sit ‘n Oupatjie en klou vas aan sy veiligheidsgordel. Blykbaar is hy te oud om te bestuur – die ironie is dik aangemaak. Dis Oupa se werk om te onthou wat hulle name is. Dis Ouma se werk om te onthou waarnatoe hulle op pad is en om hulle daar te kry. Geen reëls geld vir hulle nie. Geen stop teken of rooi lig kan haar keer nie. ‘n Koue sweet sak oor jou as jy agter of langs hulle beland. Enige iets kan gebeur. Sy kan enige oomblik onverklaarbaar links of regs draai, of selfs reverse. Al wat keer dat dit in ‘n totale ramp ontaard is die feit dat hulle 10 km/h ry. Op die snelweg. In die vinnige baan. Ons weet ons gaan ook eendag daar kom, so ons toon hulle die wêreld se geduld en respek.



Jeep bestuurders... Hulle wil tog net so graag off-road, alhoewel hulle in die stad bly. Hulle ry deur elke pothole en klim op die sypaadjies in die parking lot, net om die off-road gevoel te kry. Hulle is gemaklike mense wat jy altyd by ‘n braai sal kry. Hulle dra net Jeep klere, Jeep skoene, Jeep onderbroeke en Jeep buustelyfies. Selfs die pram het ‘n Jeep logo op.
Die met Jeep Wranglers koop elke moontlike accessory wat op die mark is. Bullbars, side-steps, towbars, winches, decals en tyres wat eintlik op daai groot myn trokke hoort. Maar behoede nou ‘n vuil merkie op daai kar... Meeste Wranglers wat jy sien ry het nog nooit eers ‘n grondpad gesien nie.



Land Rover eienaars. Hulle kom en gaan waar hulle wil. Geen sypaadjie of gebergte kan hulle stuit nie. Die woord “gemaklik” bestaan nie vir hulle nie. Hulle is rof. Hulle is onbeskof. Hulle gebruik swart mambas om hulle broeke bo te hou en ystervarke om hulle hare te kam. Land Rover modelle word gemerk met getalle soos Series 90, Defender 110 wat die top spoed van die voertuie aan dui. Daar word  gesê 90% van alle Land Rovers wat nog ooit gemaak is, is nog op die pad. Die ander 10% het hulle bestemming bereik. Die eienaars het egter vrede gemaak met die feit dat agteros ook in die kraal kom. Land Rover bestuurders ry ook altyd in pare van twee of meer want iemand gaan eventually ge-tow moet word. Hulle ken al die pad bystand dienste se nommer uit hulle koppe uit. Hulle het altyd ‘n hond by hulle, sodat hulle nie alleen hoef terug te stap huis toe nie. (Moenie Land Rover eienaars verwar met Range Rover eienaars nie! Sien Range Rover eienaars.)



Lexus eienaars? Hulle is stylvol. Hulle is professioneel. Maar goeie bliksem is hulle nou vervelig... As hulle iets op Facebook post dan refresh hulle heeltyd die bladsy om te sien of het iemand dit al ge-like.



Mahindra bestuurders – Die mense het geen idee wat die woord “esteties” beteken nie. Die woord “mooi” is volksvreemd vir hulle. Maar hulle gee nie om nie. Die woord “prakties” is al wat vir hulle saak maak. Ons kots elke keer so bietjie in ons mond as ons een van daai onooglike Mahindra gedrogte sien ry, maar ons judge nie want ons weet hulle is op pad om iets te gaan bou of reg te maak of af te lewer. Vra altyd ‘n Mahindra eienaar se selfoon nommer, want die kans is goed dat jy die persoon in die nabye toekoms gaan vra om jou te help met iets.



Mercedes eienaars. Sug. Die mense darem. Nie een van hulle kan bestuur nie wat ook duidelik is aan die stampe en krapmerke om die arme kar. Hulle sit hulle hazards aan as hulle parkering soek. Hulle is gewoonlik middeljarige of ouer dames wat ‘n bestuurspos iewers in die regering het. Hulle het geen waardering vir die ongelooflike vermoë, kwaliteit en tegnologie van hulle karre nie. Hulle weet net om met die kar te ry is soos om ‘n boetiek rokkie aan te hê. 
Die AMG reekse en E-klas is gewoonlik gereserveer vir ou toppies. Hulle ry rond soos die kat se snor, met die wete “they have arrived”. Ons vloek hulle binnensmonds, maar net omdat ons jaloers is en kyk hulle verlangend agterna. Ons ry egter draaie om Mercedes bestuurders, want ons weet hulle gaan enige oomblik in iets vasry, want selfs met die magdom tegnologie, kry hulle dit steeds reg om die kar te stamp. Sug.



Mini eienaars. Hulle is cool. Nee, ernstig. Hulle is funky mense met persoonlikheid. Ek het nog nooit ‘n Mini bestuurder ontmoet waarvan ek nie dadelik gehou het nie. Hulle is net blerrie mal in hulle koppe om daai geld te betaal vir daai piepklein karretjies. Meer geld as common sense.



Minibus mammies. Jy sien hulle karre gewoonlik naby ‘n skool ry. ‘n Hyundai H1 bus, ‘n VW Kombi, ‘n Mercedes Viano bussie, ensovoorts. Hulle is altyd op pad iewers heen. ‘n Hokkie oefening, ‘n rugby game, ‘n klavier klas, ‘n duisend en drie cupcakes wat afgelewer moet word, ‘n vangsel Spar groceries wat gelaai word, ‘n skooltaak wat afgelaai moet word, klere wat omgeruil moet gaan word. Altyd iets. Altyd ‘n mission. Hulle amptelike titel is eintlik “huis vrou” maar hulle vertoef bitter min tyd by die huis, want hulle is natuurlik altyd op die pad, besig om te mission. Hulle het al geleer om nie naby hotelle of malls te stop nie, want daar probeer altyd ‘n span Japanese toeriste by die bussie inklim. Hulle is gewoonlik geheime alkoholiste. Nie dat ek hulle blameer nie. Moet so ‘n skedule so meeste van ons, ons tot drank gewend het. Ek het nie eers so ‘n skedule nie, en ek wend my tot drank.



Mitsubishi eienaars. Pajero bestuurders om presies te wees... Hierdie mense leef met hulle eie stel reëls. Hulle kom en gaan wanneer hulle wil, hoe hulle wil, soos hulle wil. Niks kan hulle keer nie, selfs al moet hulle oor jou loop (ry?). Hulle het ook blykbaar ‘n oneindige bron van inkomste, want watter mens wat ‘n actual budget het betaal dit vir ‘n wit kar (klaarblyklik, as jy ‘n Pajero bestel, is jou keuses van kleure sneeu wit, spook wit of wit wit wat vir my sê dat die arme mense ook nie veel verbeelding het nie?). En hulle voel ook ‘n vy vir die omgewing, want jy het ‘n klein olieveld nodig om die kar se tenk vol te hou. Vir ‘n trip Johannesburg na Durb’s toe het jy so 7 olie-tenkers se diesel nodig. Die arme ysbere.



Opel eienaars? Ek weet nie... Almal is te bang om ‘n Opel te koop want die Duitse vervaardiger kan ook enige oomblik onttrek en die land uit vlug. Die wat braaf genoeg is om ‘n Corsa’tjie of so te koop het darem persoonlikheid, maar die arme goed is so uitgestres juis omdat Opel enige oomblik hulle gatte kan sien en dan is die ouens ook geruïneer. Sies tog. As jy jou in ‘n Opel eienaar vas kuier, gee vir hulle ‘n glas wyn. Hulle het dit nodig vir die senuwees.



Peugeot eienaars? In hulle defense is dit gewoonlik mense met oulike, sprankelende persoonlikhede. Die liggie brand helder, maar daar is niemand tuis nie. En dis oukei. Nie almal kan slim wees nie. Party moet maar mooi en oulik wees, soos Peugeot eienaars.



Porsche, Ferrari, Lamborghini, Bently, Maserati en Aston Martin eienaars. Hulle is tossers. Ons weet dit. Hulle weet dit. Niemand is in denial oor dit nie. Hulle probeer kompenseer vir iets. Ek gaan nou nie sê dis vir hulle klein totties nie, maar ons almal dink dit. Ons plak posters van hulle karre teen ons mure. Tog haat ons die bestuurders. Dis maar net omdat ons almal ongelooflik jaloers is op hulle. Gelukkig het hulle sulke groot ego’s, dis nie moeilik om nie van hulle te hou nie. Maar ons vergewe hulle, want as ons ook sulke karre gery het, het ons ook soos Meneer Dik Tril rondgeloop. Hulle is gewoonlik either ouerige gryskop omies of prentjie-mooi mense wat verseker modelle is in parfuum advertensies. Hulle het pragtige karre. Fok hulle.



Range Rover eienaars. Die blerrie ryk gatte hier tussen ons. Lei bietjie aan ‘n identiteitskrisis want alhoewel daar ‘n Land Rover badge op die kar is, sal hulle jou mooi vertel, nee hulle ry ‘n Range Rover... Hulles sal jou ‘n paar keer herinner hulle ry ‘n Range Rover.
Is dit ‘n Discovery wat voor jou ry? Ek wed jou dis ‘n dokter wat hom bestuur. Is dit ‘n Evoque? Dis ‘n cougar tannie daai. Pasop vir haar! As haar man weg is op besigheid het sy groot planne. Is dit ‘n proper Range Rover? Dis ‘n drug lord op pad na sy volgende drug deal toe. Geen mens kan mos daai kar bekostig deur ‘n eerlike bestaan te maak nie? Iewers moet daar onheilighede of onwettighede aan die gang wees. 
Die Range Rover mense ry na privaat skole toe, parkeer voor dertien verdieping huise en hou vakansie op Houtbaai. Hulle lees die De Kat, en is ook die enigste mense wat iets kan koop wat in De Kat adverteer word. Hulle huise was al op Top Billing. Ons wens ons was hulle. Ons sê vir onsself dat geld nie kan geluk koop nie. Net soos ons, sit en huil hulle oor hulle probleme op pad werk toe (of drug deal toe). Ten minste sit hulle in totale luuksheid en huil. Al probleem met die teorie is, hulle kan jetski’s bekostig. Naweke gaan ry hulle op die jetski’s, en ek het nog nooit gehoor van iemand wat op ‘n jetski sit en huil nie.



Renault eienaars. Ek weet nie wat om nou eintlik te sê oor hierdie spul bestuurders nie. Ek ry self ‘n Renault, so duidelik moet daar ongelooflike aantreklike, besondere interessante en hoogs intelligente Renault eienaars wees. Maar hulle het ook net-net genoeg verbeelding gehad om nie ‘n Toyota of VW te koop nie. Hulle het egter nie genoeg tussen die ore om te besef dat naverkoopdiens ‘n belangrike deel van die besluitneming moet wees nie. Renault eienaars is waarskynlik al die mense wat oor is; ‘n boksie Smarties. Die mense wat nie heeltemal in ‘n ander boksie pas nie. So bietjie interessant as jy hulle ontmoet, maar jy vergeet hulle name en gesigte die oomblik as jy weg loop.



Smart karretjie en Fiat 500 bestuurders. Ag, die mensies en hulle karretjies is te oulik. Kom net uit ons pad uit, die groot mense ry nou.



SsangYong bestuurders... Wie is hierdie mense? Ken jy so iemand? Ek ken nie so iemand nie. Hulle probeer duidelik anders wees. Maar teen watter prys?



Suzuki eienaars. Die Jimny bestuurders om presies te wees. Hulle is rustige mense. Geen haas of worry in die wêreld nie. Hulle loop verby ander Jimny eienaars en gee so ‘n medewetende knip van die oog vir mekaar. Hulle is nie gepla oor fancy of duur nie, tog weet hulle hoe om die lewe te geniet. Hulle gaan ry saam met die “big boys” die 4x4 roetes en wag dan bo vir die Land Rovers en die Wranglers. Die 4x4 “big boys” haat hulle.
Kom tog net uit die vinnige baan uit op die snelweg, want ons almal weet julle gaan nooit 100 km/h sien nie.



“Sagte SUV” eienaars. (Sien ook Honda, Mazda, Nissan, VW en Toyota bestuurders.) Hulle is dalk bietjie meer prakties as die sedan bestuurders, maar nie meer interessant nie. Jy sien hulle op en af in parkades loop, onseker oor watter een van die duisende SUVs hulle s'n is, want die hele lot van die karre lyk presies dieselfde. Hetsy dit ‘n Honda CRV, Hyundai Tucson/ix35, Kia Sportage, Mazda CX3/5, Nissan Koeskoes/X-trail, Renault Duster, Toyota RAV4 of VW Tiguan is, maak nie saak nie. Vinkel en koljander, die een is nes die ander. Vir al wat ons weet kom die hele spul uit dieselfde Japanese fabriek uit en kry net ‘n ander badge op. Hoe sal ons weet? G’n mens kan die verskil tussen die goed sien nie. Hoe sieldodend. Het ons hulle al vandag gesien? Dalk. Dalk nie. Dit was net nog ‘n gesig in die skare. Hulle geniet hulle SUVs. Hulle klim die sypaadjies met die SUVs. En hulle het nie ‘n saak wat ek sê nie, want hulle is mal oor hulle SUVs.



Mense wat tjorries, tjorrietjie en klein karretjies ry. Dis die Chev Spark, Hyundai Getz, i10, i20, Ford Figo, Opel Corsa, Fiat, Suzuki Swift, Kia Picanto, Renault Clio, Datsun, ens. mense. Dis die gewone mense. Dis die sout van die aarde mense. Dis mammas wat met pantoffels gou die kinders by die skool afgooi – telkemale letterlik gooi. Die karre se agtersitplekke lyk gewoonlik soos ‘n slagveld bestrooi met leë sweets papiere, tjips krummels, gesmelte sjokolade, laas week se weggesteekte kaassmeer toebie en vingermerke teen die ruite. Op die agterruit is daar 'n string van daai wit “my familystick figure stickers geplak: ‘n Ma, vier kinders, ‘n baba, sewe honde, drie katte, negentien budjies, ‘n goudvis en ‘n ietermagog. Dis hierdie mense wat nou 'n saak het met alles en almal om hulle. Hulle ry doodluiters op pad na hul bestemming. As daar nie 17 kleuters agter in die kar is nie, is die karretjie stampvol volwassenes wat heerlik gelag en kuier in die karretjie. Die karretjie het gewoonlik ‘n naam, aangedui met ‘n sticker: Mientjie se tjor; Santjie se besem; Groenie die Draak; Leviniatjie en so aan... Ons hou van hierdie plat op die aarde mense.
Dis ook die klomp tjorrietjie bestuurders wat die meeste en hardste kla oor die BMW bestuurders. Hulle gaan self eendag ook BMW’s ry.



Taxi bestuurders. Die gemeenskaplike ge-boe, string vloekwoorde en vuil gebare wat na daardie twee woorde volg, sê genoeg. Ons universele haat en afsku vir hulle verenig ons as ‘n nasie.



Tuindiens trokkie bestuurders. Hulle top spoed is 20 km/h – op ‘n goeie dag. Hulle is daar om jou geduld te leer en te leer om jou tyd beter te bestuur. Hoe haastiger jy is, hoe groter is die kans dat ‘n tuindiens trokkie voor jou gaan beland. Ek is elke oggend laat. Daar is elke dag ‘n tuindienste trokkie wat voor my beland. Dis nooit dieselfde een nie.



Volvo eienaars. Hierdie mense het nie ‘n enkele worry in die wêreld nie. Buiten vir die herverkoopwaarde van hulle Volvos. Hulle lê in die nag wakker en wonder hoekom enige iemand ‘n Audi, BMW of Mercedes sal koop as Volvos soveel mooier, gemakliker, goedkoper, tegnologies meer gevorderd en veiliger is nie. Hulle sal partykeer aan die verkeerde kant van die pad ry, net om bietjie opwinding te voel. Om net weer te voel hoe dit voel om te lewe. Hulle dink nie hulle is vervelig nie, maar is te skaam en teruggetrokke om iets te sê by die braai, so niemand weet regtig iets van hulle af nie. Gee ‘n Volvo eienaar ‘n drukkie net dat hulle bietjie ingesluit voel.


Nagedagte: Dit is jammer dat daar ‘n kultuur bestaan waar jy geoordeel word deur die kar wat jy ry. Jou kar is op GEEN manier ‘n aanduiding van wie jy werklik is nie. Daar is ongelooflike, plat op die aarde mense wat BMWs ry. Daar is ook horribale skarminkels wat BMWs ry. Dit is verspot om te sê alle BMW bestuurders is skorrie morries net omdat daar ‘n handjievol ouens is wat nie hulle flikkerligte gebruik nie. Daar is net soveel Toyota bestuurders wat nie hulle flikkerligte gebruik nie.
Aan die einde van die dag is ‘n kar net vier wiele en ‘n metaal omhulsel met aandrywing. ‘n Mensgemaakte masjien. Dit bring jou waar jy wil wees. Party mense kom vinniger of in meer gemak by hulle bestemming uit. Die res van ons kom ook maar by ons bestemming uit. Ons leef nie in ons karre nie. Ons leef in die wêreld daar buite – by die bestemming. Dis hoe en wie jy by die bestemming is wat eintlik saak maak.
As jy gelukkig genoeg is om ‘n duur, luukse of vinnige kar te kan bekostig, gun ons jou dit. Enige ou sou ‘n Rolls Royce wou ry, as hy of sy kon. Dit maak nie van jou ‘n beter mens as jy wel een ry nie. Dit maak nie van jou ‘n slegter mens as jy ‘n 1980 Opel Kadett ry met 20 duim mags nie. Waar ons opeindig gaan daai motorkar in elk geval geen rol speel nie.

Ry net mooi en moenie ‘n varknek wees nie.

Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment