Wednesday 17 October 2018

Jag 'n bok - dit gee jou mos borshare


So vat my Pa my mos jare terug om te gaan jag. My Pa was sy lewe lank ‘n jagter. My broer het ook aangesteek en sy liefde vir die natuur uitgeleef deur te jag. (Ek weet, bietjie van ‘n paradoks, maar moet my nou nie vooruit loop nie.)
Nou dit is geen geheim dat ek bietjie van ‘n pasifis is nie. Was nog altyd. As daai woord bietjie groot is vir jou, ek help jou: ‘n pasifis is iemand wat nie glo in oorlog en geweld nie – bietjie van ‘n hippie tree-hugger, amper soos Switserland. Ek glo “the pen is mightier than the sword”. Jy kan iemand baie akkurater en vinniger in die nek steek met ‘n BIC pen as met ‘n lompe swaard.

Anyway, toe ek teen 21-jarige ouderdom geen belangstelling in jagtery toon nie, toe voel my Pa seker ek het bietjie van ‘n hupstoot nodig in die regte rigting. ‘n Pa en seun jag-naweek sal van my ‘n volwaardige man maak. Apparently is jou vermoë om diere dood te maak ‘n maatstaf van jou manlikheid.



Maar so gesê, so gedaan. Die eerste hindernis van die avontuur was die tent-slapery beter bekend as die gevreesde k-woord: “Kamp”. Jy moet mos eers jou eie piepklein gehug bou om soos ‘n hawelose te leef. 
Dan ook, op 21-jarige ouderdom is jou idee van “vroeg opstaan” om betyds op te staan om te sien hoe die son sak. Nee, nie as jy jag nie. Jy moet douvoordag opstaan – hoekom, weet ek nie. Dalk dat jy die bokke kan skiet terwyl hulle nog vars is? Of hulle is dalk nog deur die slaap? I don’t know. Nie dat ek in elk geval laat kon slaap in die tent in die bosse nie, want daai voëls besluit 5 uur die oggend om aan die gil te gaan. Wat is daai voëls nou weer? Wie so kloek-kloek op die grond, nee nie kalkoene nie. Ook nie hoenders nie – met die kolle, man. Tarentale. Gil die tarentale mos nou 5 uur die oggend hier langs die tent. 

Dag ek toe nou, nee almal is wakker van die geraas, en staan maar op. Toe nou nie; die res slaap nog soos klippe en lê en snork soos ‘n trop vark griep vlakvarke. So sit ek in die flou lig van die sonsopkoms voor die tent en breakfast. Sulke outdoorsy breakfast. Muesli of iets. En jy eet sommer so met die hand, want jy leef mos soos ‘n boemelaar sonder enige basiese beskaafde utensils - soos pap bordjies. Ek moes noodgedwonge maar vir my ‘n lepel uit hout uit kerf. Sit ek in stilte voor die tent en wurg die droë muesli af, hoor ek iets deur die bosse loop net duskant die kampterrein. Ek word yskoud want ek het nie te lank terug daai movie gesien oor die leeus wat die mense so vang nie. Maar ek hou my pose. Ek is mos nou manlik. Wei-wei kom ‘n familie van bokke toe te voorskyn. Pa, ma en ‘n baba bokkie. Pragtig. Grasieus. En op daai oomblik wens ek het ‘n geweer aan my gehad. Ek meen, hulle was daar reg by my! Drie vinnige skote en ek kon hulle net daar uitgewis het – "bang, bang, bang". Ek kon hulle geslag het en oor my muesli gesprinkel het.
Maar al wat ek by my gehad het, was die gekerfde hout lepel. Ek spring toe op en probeer hulle sommer oor die kop slaan met die hout lepel – ek dink gelukkig vinnig en mik vir die baba bokkie, want hulle is nie so vinnig nie, en die vleisies is mos nog lekker sag en sappig. Maar die lepel het helaas gebreek na die eerste hou en hulle het ongelukkig weggekom – maar nie voordat ek ‘n verstomde waddefokmaakjy-kyk gekry het nie.  



Na die Bambi-ogies my beskuldigend bekyk het, besef ek toe net weer, ek verstaan nie jag nie. My Pa is so trots op sy Remington 9-punt-5 en my broer op sy Magnum 14-punt-2-5 (ek weet nie, ek verstaan nie die terminologie nie)... En hulle vertel altyd met soveel energie van hulle jagervarings. Hulle noem dit ‘n sport, maar ek verstaan nie?
Hier stap ‘n rooibokkie, dood onskuldig, besig met sy eie rooibok gedagtes: “Ek wonder waar is die lekkerste bessies? Watse kak is hierdie aan my hoef? Siessa!” Of wat rooibokke ook al dink... En volgende oomblik word hulle geskiet deur “die groot wild jagter” van doer in die verte af met ‘n geweer ontwerp om buffels mee plat te trek (of waarvoor ‘n punt-2-2 eintlik ontwerp is). Hulle het mos nou geen kans gestaan nie. Hoe presies is dit “sport”? Gaan dit nie meer van ‘n sport wees as jy die bok probeer inhardloop en met ‘n skerp klip in die nek probeer steek nie? Is dit nie bietjie meer regverdig nie?
Eers word daar 'n foto geneem. Die jagter gaan hurk so 10 meter agter die bok, sodat die bok drie keer groter lyk as wat hy regtig is (Dink julle regtig ons kom dit nie agter nie?). Dan word die arme ding se keel daar afgesny en die lyk word deur die veld gesleep na die bakkie toe. (Moet ons dalk jou psigopatiese neigings aanspreek?)



Maar nee, dit stop ook nie daar nie. Die kop word opgestop en teen ‘n muur gehang – die arme bok se laaste gesigsuitdrukking verewig vasgevang: ‘n Verbaasde “Wat was daai harde klank?!”-uitdrukking. En almal wat kom kuier word die opgestopte kop gewys en daar moet eers ge-oe en ge-aa word.
Ja ek het hom geskiet. Nee, hy’t niks verkeerd gedoen nie. Hy’t net daar gestaan. Wat’s jou punt?

Ek kan verstaan as jy iets skiet en opstop as dit iets was wat jy gehaat het, of wat iets verkeerd gedoen het. Soos ‘n inbreker. Die laaste uitdrukking op sy gesig toe hy besig was om jou TV uit te dra, en jy hom platgetrek het... Dis mos iets waarop jy kan trots wees?

Vra jy die jagters hoekom het hulle die dooie diere se koppe teen die muur, is die antwoord natuurlik “omdat dit mooi is”. Regtig? Ek dink my Ma is mooi, maar ek het foto’s van haar.



Die bokke waarvoor ek die jammerste voel, is daai opgestopte bok koppe wat jy in ‘n Bosveld kroeg sien. Die arme ding het mos ‘n partytjie hoed op, ‘n oorgroot sonbril en ‘n sigaret wat skeef uit die bek hang. Duidelik was die bok by ‘n partytjie, besig om die lewe te geniet toe hy geskiet en opgestop is... Siestog.

Deur die loop van die Pa en seun jag-naweek het ek wel ‘n springbok geskiet. Ek is geluk gewens, op die rug geklap en omdat dit my eerste bok was, moes ek volgens tradisie sy knaters eet. (Ek het nie, want for pete’s sake, ek moes darem vasklou aan die bietjie beskaafdheid wat ek oorgehad het.) Dit was ‘n leë oorwinning. Iewers was nou 'n Ma bok wat ge-worry was oor haar man-bok. Dalk was sy kwaad vir hom? Gedink hy lê al weer tot watter tyd van die nag in die kroeg? Ek het nie meer manlik gevoel nie. Ek het jag ook nie regtig meer verstaan as te vore nie. Maar ek het wel ‘n blik gekry in die jagters se wêreld. Mans se soeke om terug te gaan na hulle primitiewe wortels – as voorsiener van die gemeenskap - "provider". Om weer te voel soos die destydse grotmens wat die natuur oorwin met ‘n skerp stok.



Ek veroordeel nie jagters nie. Ek gaan nie voor hulle bakkies toi-toi of ‘n bus brand nie. Doen wat goed is vir julle siele. Ek is te lief vir ‘n ou biltonkie of ‘n lekker gerookte rooibok boud met ’n rooiwyn sousie – omnomnom! Maar moenie vir ‘n oomblik dink ek is minder van ‘n man omdat ek nie ‘n dier se lewe kan neem nie. ‘n Bok wat eens ‘n naam gehad het en met omgee grootgemaak is deur ‘n ma-bok en beskerm is deur ‘n pa-bok.
Ek kan ook voorsien aan my gemeenskap. Ek noem daai een by die “Woollies” naam. Daai steak kan nie met beskuldigende Bambi-ogies na my kyk nie. ‘n Steak proe doodeenvoudig net lekkerder as jy nie eers sy gesig gesien het nie...

Riaan Palmer
Share:

0 comments:

Post a Comment