Ek’s al weer in
die moeilikheid. (Nie dat dit anders is as enige ander dag van my lewe nie – dis
net die diepte wat verskil van dag tot dag.)
Hierdie keer
sommer daar in Spar. Ek loop luidrugtig en vertel vir Die Ander Een wat die "dik
vrou" by die werk nou weer gedoen het. Volgende oomblik word dit duister hier
voor my, soos wat ‘n gebergte voor my oprys. Sy swaai ‘n “pork banger” vinger hier
voor my neus rond soos wat sy op my begin afgaan. (Ek’s eers lus en byt die
vinger, maar bedink mysef - gelukkig. Weet nie waar daai vinger orals was nie.) Sy
verduidelik iets oor vet mense en onder aktiewe kliere. Maar ek luister nie regtig
nie want ek is in totale vervoering oor die flappe hier onder haar arms wat
soos twee bolle pizza deeg heen en weer swaai soos wat sy beduie. Die flappe begin so
momentum opbou van die heen-en-weer gewappery dat ek seker is sy begin so
bietjie airborne raak. Ek sien uit die hoek van my oog dat Die Ander Een
gewetenloos aangestap het en my alleen los om die dik tannie se toorn te
ontgeld. Verraaier! Toe sy uiteindelik klaar is met haar ernstige
gemoedsaandoening, draai sy om en voor ek nog kan “uhm of ah” verdwyn sy tussen
die sweets-rakke in. Ek sluit maar weer skaam-skaam by Die Ander Een aan.
“Jy wil mos.”
Word daar vir my gesê.
Ja, ek weet. Ek
en my se groot bek.
Die tannie het my
nou nie ‘n kans gegee om te verduidelik nie, so nou verduidelik ek maar hier: Ek praat baie
van dik mense. (Onse Ma’s het ons eintlik geleer jy praat nie van “dik” nie –
jy sê “versadig”. Luister mos nie vir my Ma nie.) Maar ek bedoel dit geensins
negatief nie. Ek gebruik “dik” soos enige ander byvoeglike naamwoord soos kort-gat
of krullebos brunet of sproet gevreet. Sou die tannie dit so sleg gevat het as
ek gepraat het van die “kort vrou by die werk” of “die maer vrou by die werk”?
Nee. Maar blykbaar is “dik” ‘n kras woord wat nooit oor jou lippe geuiter mag
word nie?
But why? Is jy
maer? Nee? Is jy ‘n medium? Nee? Dan is jy mos verdompwil dik. Maar, so what? Ek
het nog nooit mense geoordeel op grond van hulle gewig of hoe hulle gebou is nie.
Ek oordeel jou net as jy Crocs dra of kouse saam jou plakkies aan het. Daai's nie onder aktiewe kliere nie! Sies man!
My familie is boere mense. My Ouma was ‘n stewige boere antie. Sy was awesome! Meeste van my ooms en tannies het “groot been strukture” – hulle vreet mos uit vrees dat hulle Anorexia gaan kry; berge heerlike boerekos net om te keer dat Anorexia ‘n houvas kry. So ek het groot geword met dik mense om my, en dit is nie vir my meer vreemd as lang mense, harige mense of mense met sproete nie. Dis maar net nog 'n eienskap van iemand.
Mense moet dit
nou maar aanvaar. Dis in ons nasie se gene. Dis in ons kos. Malva poeding,
paptert, room aartappels en koeksisters is duidelik nie kos vir ‘n maer nasie nie!?
Boere meisies is
sulke klein petite goetertjies as hulle jonk is. Dan, een dag, gewoonlike op
hulle 35ste verjaardag staan hulle op en die eens fyn veldblommetjie is ewe
skielik ‘n koeëlronde kaktus. Daai jeans wat jy nou al 10 jaar lank dra en het
skielik gekrimp in die was. (Dis nie jou skuld nie. Dis daai nuwe Sta-soft wat
die klere so laat krimp.) Jou buuste het skielik ‘n lewe van hulle eie. Soos
twee wilde speenvarke in ‘n streepsak - durf jy nou nie ‘n buustelyfie dra nie.
All over the place. Jy dop die potlood toets. Actually sal jy die mop toets ook
dop...
Veels geluk. Jy’s
nou ‘n volwaardige boere tannie. En dis fine.
Die mans is nie
veel beter af nie. Op 30 val hulle breë borse ewe skielik na hulle mage toe tot dit
so 3 duim oor die belt hang. Jare se bierdrinkery eis sy tol en teen 40 is meneer se buuste net duskant ‘n B-cup. Die verskil is mans omhels die terugslag en dra
die boepie soos ‘n “badge of honor”. Noem die ding mos ‘n afdak vir die Porsche
of sy six-pack wat nou ‘n biervaatjie geword het – kompleet met kraantjie en
al.
Wat mens vies
maak is die mans loop met die boepie wat dril soos jellie – lyk of hy 8 maande swanger is,
met ‘n armpie wat al uithang - maar verwag Mammie moet nog steeds gebou wees
soos ‘n agtienjarige? ‘Tsek man! (As jou man een van daai is, begin hom
voorstel as “Hi, dis Kobus, my ‘eerste’ man.” om hom op sy tone te hou...)
Natuurlik is die
media te blameer. Sit mos sulke maer, uitgeteerde meisies orals in die
tydskrifte. Hulle dink dis mooi, en die res van ons kry hulle jammer want
duidelik is daar hongersnood waar daai meisietjies bly. Siestog. Kan iemand
maar net ‘n hamburger vir die arme ding in die hand stop? En die geraamte
meisietjies is orals! Dis mos die bemarkers se truuk. Wil jy ‘n kar verkoop? Sit
‘n meisie wat se boobs half uithang in die advertensie... Is ons regtig so
oppervlakkig? “Kyk daar is ‘n brandmaer meisie wat se boobs uitsteek en vergeet
het om ‘n rok aan te trek... Ek koop nou sommer ‘n Ford.” Really? Dis mos nie
regte mense daai nie. Ons weet almal die lemoenskille is van die bene af uit ge-photoshop. G’n
mens het bene soos daai op 40 nie.
Gaan kyk maar na skilderye van die
Middeleeue. Daai modelle het almal rondings gehad. Rond is ons natuurlike vorm –
geraamte is nie ‘n vorm nie.
En dames, julle
moet dankbaar wees vir die standaarde wat aan julle gestel word... Julle hoef
net maer te wees volgens “sosiale standaarde”. Nie mans nie. O nee. Ons moet
maer EN gespierd wees. Niks minder as ‘n six-pack nie. Ek sou graag vir Bobby
van Jaarsveld wou blameer, want die arme kind besit mos nie ‘n hemp nie. Loop
en pose mos vir al wat ‘n Huisgenoot is sonder ‘n hemp. Nee, die hoë standaarde het actually al
begin toe ons klein seuntjies was... Het julle al daai He-man speelgoed
mannetjies gesien waarmee ons grootgeword het? He-man se blerrie six-pack het ‘n
six-pack! Selfs Skeletor wat die “baddie” is het ‘n six-pack! En dis die
standaarde waaraan ons moet voldoen? G’n wonder helfte van ‘n generasie
spandeer die hele dag by Virgin Active en neem dosyne selfies voor die gym se
spieël nie... Die arme goed het ‘n lae selfbeeld, man. (Gou, op daai punt: Die
enigste rede hoekom jy ooit ‘n help-my-sterk-lyk-hempie hoef aan te hê is omdat
jy op pad Comrades toe is, of omdat jy ‘n lae selfbeeld het.)
Dan moet ek darem
ook sê dat daar perke is as dit by dikgeit kom. Ons Boerenasie het so 6
verskillende liggaamsboue: Siestog - gee die arme ding ‘n hamburger, mollig, plomp,
pokkel, donsig (of dik) en “Goeie bliksem!”. Die eerste een en die laaste een
is ongesond. Die ander is perfectly fine en gesond.
As jy jou
ribbekas soos ‘n Xilofoon kan speel, eet ‘n pakkie Simba tjippies!
Hoe weet jy of jy
in die “Goeie Bliksem!” kategorie val? Mense gaan jou woordeloos sê. Byvoorbeeld
as jy in ‘n hysbak klim en driekwart van die ander passasiers kyk jou op en af
en klim uit... Dan moet jy weet! As jy by ‘n restaurant met buffet instap en
die bestuurdertjie kyk jou met groot oë aan en word spierwit... As jy self al
geleer het om nie te vinnig te stap nie, want die wrywing tussen jou dye
veroorsaak ‘n klein vuur... Dan moet jy weet. As jy by “Goeie bliksem!” trek, moet
jy dalk maar twee keer dink oor jou gewig. Dis sleg vir jou gesondheid. Hartaanvalle
en suikersiekte is baie onaangenaam. Begin maar klein. As jy ‘n cupcake eet, krap
maar eers die sprinkles af. As jy iemand in Spar gaan uittrap oordat jy fyngevoelig
is, moenie na die tjoklits rak toe hol om jou beter te laat voel nie. Eet ‘n
wortel!
Nou as jy nou weer
in Spar rondloop en my hoor praat van ‘n “dik tannie”, moet dit nie persoonlik
vat nie. Ag jouself gelukkig: Jy kan altyd iets aan jou gewig doen – jy hoef
nie, maar jy kan. Jy’s eintlik net versadig. Ek is nie so gelukkig nie. Daar is
niks wat ek omtrent my gesig of persoonlikheid kan doen nie.
Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment