Ons gaan kyk toe
mos nou Tattoo die naweek.
Vra my Ander Helfte
vir my hoekom is doedelsak die vertaling van “bagpipes”.
Ek trek my
skouers op. “Dalk is doedel ‘n sinoniem vir pyp?”
Antwoord die Ander
Helfte: “Hmm, nee dit kan nie wees nie. Anders het kerke mos doedelorrels gehad en
dan sou jy ‘n loodgieter moes uitkry om na jou doedels te kom kyk...”
(Ek het toe nou
maar gaan oplees. Apparently kom doedelsak van die Nederlandse ‘doedelzak’ so
dis die kaasvreters wat deurmekaar was. Maar ek gaan nietemin van nou af doedel
gebruik as sinoniem vir pyp. Dis oulik vir my.)
Nogal heel
impressive om die groot groepe mense so te sien saambeweeg soos ‘n goed
geoliede masjien. Selfs daai piepklein trompoppie meisietjies wat daai stok so
hoog in die lug gooi, is in perfekte harmonie. As ek nou so ‘n stok probeer
gooi... Iemand sal definitief ‘n oog verloor... Ek het mos soveel
hand-oog-koördinasie soos ‘n meerkat op rolskaatse.
Jare en jare se
letsels van mislukte pogings om “buite aktief” te wees getuig daarvan. Nee wat.
Buite is nie vir my bedoel nie. Buite probeer my al vir jare van kant bring. Ek
het al op ‘n jong ouderdom agtergekom dis veiliger om iewers, weg van skerp
goed af, ‘n koeltetjie se soek en net doodstil te sit totdat dit donker genoeg
is om weer in te gaan huis toe.
Dis nie dat ek
nie probeer het nie. Regtig ek het.
Onder andere
atletiek op skool.
Ek het mos nou al verduidelik dat ek nie die hardloop ding
doen nie. (Mos teen my geloof – sien Spreuke 28:1.) Maar op skool het jy mos nou
nie veel van ‘n keuse nie. Word almal in ‘n ry gesit en word daar vir jou gesê
jy moet nou hardloop. Niemand bother om vir jou te sê wat die punt is nie. “Ba!”
Klap die skoot en die hele lot verwilderde graad eentjies hol na die anderkant
van die veld toe. Dis eers as jy met ‘n vraagteken op jou gevreet aan die ander
kant uitkom en jou maatjies eenkant toe getrek word, dat jy besef jy moes eintlik
so vinnig hol as wat jy kan. Meanwhile is jy op ‘n gemaklike draf so saam jou
maatjies.
Nie dat ek in elk
geval eerste sou kom nie. Het jy enige idee wat dit vat om hierdie bykans 2
meter logge lyf van my aan die beweeg te kry? Het jy al ‘n kameelperd sien
hardloop? Dit was moontlik ek. Die arms, bene en nek flap so in welke rigting
met elke lomp tree. Die feit dat ek enige spoed - vinniger as loop - bereik, is alreeds
‘n prestasie wat ‘n goue sterretjie verdien.
Ek dink in elk
geval iemand wat vinnig is het swak gene, want dis die lot se oer-voorouers wat
altyd die vinnigste weggehardloop het as daar gevaar was. There. I said it.
Vinnige mense is banggatte. (That’s my excuse and I’m sticking to it.) Aan die ander kant, as jy in die oertyd
stadig gehardloop het was jy waarskynlik een of ander ongedierte se
middagete... So, it goes both ways.
Die ander
hardlopers wat ons irriteer is natuurlik die langafstand atlete. But why? Jy
sien hulle in die oggend as jy werk toe ry. Jy sien hulle in die middag as jy
van die werk af kom. Saterdae 12 uur die middag. Altyd aan die hardloop. Waarvoor
hardloop julle weg? Draf hulle met sulke gemaklike uitdrukkings op en af in ons
strate; ontsenu net ons honde. Hulle besef net nie hoe gevaarlik dit is nie.
Bedoelende – die res van ons wat hulle so haat. Ons haat hulle gesonde lewenstyle.
Hulle uithouvermoëns en ongelooflike toewyding maak ons naar. Hulle laat dit so
maklik lyk. Fok hulle. As hulle geweet het hoeveel keer ek al die drang moes teëstaan
om nie oor hulle te ry nie, het hulle eerder by die huis gebly en sit-ups
gedoen...
Een van hierdie
hardlopers vertel my dat daar iets is soos ‘n “runner’s high”. ‘n Onbeskryflike
gevoel van euforie en vrede.
Ek moet dit probeer.
Man, ek moet niks!
Ek probeer
vir die Hardloper verduidelik dat dit moeilik om te hardloop sonder om my wyn
te mors. En die simpel oefen outfits het mos nie sakke nie. Waar gaan ek my
sigarette bêre? Maar die Hardloper insist dat ek ten minste een keer moet saam
draf. Maar ons probeer mos alles en behou die goeie. Ek's bang vir niks - het mos murg in my doedels. (See what I did there? ;-) )
Weet jy, daardie
dag het my lewe verander: Ek het al drie marathons gehardloop sedertdien.
Grappie! (Ek het
egter al drie cupcakes gehad vandag!)
Nee, die eerste
indikasie dat dit ‘n slegte plan was, was toe ek afgebuk het om my veter vas te
maak, en ek ‘n kramp in my kuit gekry het...
Die Hardloper maak my rek en strek
en op die plek draf en sulke skêr bewegings doen. Na ‘n paar minute van dit is
my hart klopping so 788/390. (Ek is clueless oor goete soos “heart rate” en
bloeddruk. Maar 788 klink omtrent reg as ek moet skat.)
Ek verduidelik
vir die Hardloper uitasem dat dit lekker was en of ons maar bietjie kan rus.
Nee, verduidelik hy. Ons het nog nie begin nie. Daai was maar net die
opwarming. Weereens ignoreer ek, teen my beterwete die waarskuwingstekens.
Uiteindelik
trek ons weg en begin die straat af draf.
En ons draf. My beenspiere
bult soos die van ‘n leeu wat sy prooi jaag. Die wind waai deur my hare en ek voel
vry.
So vry. Een met die natuur. Is dit die euforie waarvan hulle praat? Dis
heerlik! Ek verstaan nou. Ek verstaan! Ek kan nie glo wat ek al die jare gemis
het nie! Die Hardloper kyk om en sien die geluk in my gesig en tel met ‘n
gejuig spoed op.
Ek beur vorentoe
om by te hou.
Die sweet begin
by my voorkop afloop. Tree na tree. Ek begin orals nat voel van die sweet. Gross.
Ek het nie eers geweet mens kan daar sweet nie. (Ek gaan nie die presiese plek
noem waarna ek verwys nie, maar daar is nie eers sweetgaatjies nie – hoe de
moer sweet mens DAAR?!) My bobene begin swaar trek om die logge lyf aan die
gang te hou.
Een voet voor die ander.
My een been wankel, en ek bly net-net
regop. “Ek weet ek kan. Ek weet ek kan!” moedig ek myself aan. My keel brand en
my asemhaling laat dit klink of ek ‘n fluitjie ingesluk het. Froeit. Froeit. Froeit.
Ek hoor my hart luidrugtig in my ore klink. Doefdoefdoefdoefdoefdoefdoef.
Een
voet voor die ander.
Ek voel elke spiertjie se inspanning. Die hart palpitasies
begin. My hart gaan nou uit my bors uit spring soos een van daai Aliens in die
movies. Bloedig. Pynlik. Genadeloos.
Een voet voor die ander.
Ek vat ‘n sluk
uit my waterbottel (ek het die Vodka-in-die-waterbottel truuk probeer. Ek moes
nie.) Ek begin hoes. Ek hoes iets uit. Ek vermoed dis ‘n stuk van my
linkerlong. Ek is nie seker of is die smaak in my mond triomf of bloed nie. Ek
voel nie meer my bene nie. ‘n Donkerte begin oor my neerdaal.
“Ek... kan...
nie... meer... nie...” Kry ek die woorde uiteindelik, huigend uit en sak op die
naaste sypaadjie se grasperk inmekaar. Ek is besig om dood te gaan. Ek dink
weer terug aan alles wat ek gedoen het om hierdie pyn en lyding te verdien. Was
ek so ‘n slegte mens? Het ek soveel mense te nagekom om hierdie soort straf te
verdien?
Die Hardloper kom
staan hier bo my. “Kom nou.”
Ek voel die trane
oor my wange loop. “Kan... nie... Klaar... Dood... gaan.”
“Moenie so pissie
wees nie. Kom. Op!”
Ek knyp my oë
styf toe. Wag vir die dood om my te kom haal. Ek maak my vrede met die komende
finaliteit.
“Kom nou!” Moan die
Hardloper weer hier bo my.
Ek maak my oë
stadig oop. Selfs my ooglede is seer, uitgeput. Dalk. Dalk gaan ek dit tog
oorleef.
“Fok jou.”
Antwoord ek. “Fokof net.”
Die Hardloper lag
eers, maar draai om en draf weg toe hy besef ek joke nie en verdwyn in die
verte.
Ek bly lê op die
naat van my rug en bekyk die blou lug. Dis so mooi. Die lewe is mooi. Soos wat ek
weer beheer kry oor al my ledemate neem my sintuie elke klein dingetjie in. Die
koel wind oor my seer, vernielde lyf. Die sagte gras hier onder my. Hier waar
ek lê besef ek, ek het nog nooit opgelet my buurman se gras is so mooi groen en sag nie.
Jy bly jare langs iemand, sonder om te besef hoe sag hulle gras is. Ek gaan hom
moet nooi vir ‘n braai.
Ek beur orent en stap stadig, sonder enige haas in die
wêreld, die dertien pynlike tree terug na my hek toe.
Ek praat nie meer
met hardlopers nie. Dis nie my kerk se mense nie. Ons almal gaan in elk geval almal
doodgaan aan die einde van die dag. Party mense gaan gesond doodgaan. Ek is
fine daarmee om ongesond dood te gaan. Fine.
Riaan Palmer
0 comments:
Post a Comment