Wednesday, 17 April 2019

Goeie maniere

Ek is alweer in die moeilikheid. Of is dit nog steeds, net dieper? En dis nie eers asof ek probeer het om in die moeilikheid te kom nie.

Sien ek loop by die gang af by die kantoor en ek loop verby een van die girls – sy huil histeries. Ek vra haar wat’s fout.
“Hoehoehoesniksnik...my kar...hoehoehoesnik...proes...my man gaan my...snikproessnikhoe...”
Ek sê vir haar sy moet kalmeer. Eerste fout. Blykbaar sê jy nie vir ‘n histeriese dame sy moet kalmeer nie. Dit werk nie.
Soos ‘n ware heer haal ek my sakdoek uit my sak en vee haar trane af. ‘n Ware hero en gentleman. Met die geveëry vee ek haar wenkbroue ook af. Ek kyk verbaas na die 2 swart strepe op my sakdoek wat al is wat oor is van haar wenkbrou. Sy sien ook wat gebeur het. Toe het ek eers kak. Ek is seker as sy nog wenkbroue gehad het, was hulle op daai stadium gelig. As verontwaardigde "looks could kill"... (Ek dink sy’t het ook daai oomblik agtergekom dit was nie ‘n skoon sakdoek wat ek oor haar gesig gevee het nie?)



Sien. Ek het nie eers probeer nie. Moeilikheid kry my net. Ek het dit mos goed bedoel.

My Ma het van kleins af maniere by my ingemoer, so ek weet nie van beter nie. Ek onthou goed hoe ek as klein seuntjie saam my Ma straat af gestap het, toe sy vir my sê ek moet aan haar ‘buitekant’ loop.
Verward vra ek wat bedoel sy. Sy sê ek moet regs van haar stap sodat my swaard arm ‘los’ kan wees. “Wat praat Ma!?”
Sy verduidelik dat in die Middeleeue mans regs van vroue gestap het, sodat wanneer hulle die vroue moes beskerm, hulle hulle swaarde makliker kon uitruk en gebruik.
“Maar ek het nie ‘n swaard nie.”
*Klap*.
“Hou op teë praat en stap regs van my!”
En hoe meer ek probeer verduidelik ek het nie ‘n swaard nie, hoe meer reën dit *klappe* (in lettergrepe natuurlik) omdat ek teë praat want “vroue is sag en moet verdedig word”.
“Jy...*...is..*..die..*..man..*..en..*..jy..*..moet..*..jou..*..Ma..*..beskerm..*..want..*..sy..*..is..*..swak.”
Tot vandag toe nog koes ek onbewustelik as ek per ongeluk links van iemand beland.



Die grootste moeilikheid wat ek egter gehad het met ‘n dame, was toe ek vir ‘n paar maande in Engeland was. Soos soveel ander jong Suid-Afrikaners, het ek vars uit die Universiteit my rykdom en geluk in Engeland gaan soek. Eerste keer dat ek ooit gevlieg het. Stoksielalleen in ‘n wildvreemde land. So gebeur dit toe nou dat ek laat in die aand, seker so 11 uur die aand, die “Underground” – oftewel die ondergrondse treine – moet gebruik om by my bestemming uit te kom.
Nou as jy lank genoeg in Londen was, dan kom jy agter dat die ergste bedreiging of moontlikheid van misdaad is ‘n ou in ‘n hoodie wat met ‘n stomp naelvyltjie jou gaan probeer beroof – aangesien vuurwapens en selfs messe onwettig is in Engeland. Natuurlik as iemand ‘n Suid-Afrikaner probeer beroof met ‘n geroeste naelvyl gaan hy hom dood lag, want ons Suid-Afrikaners is meer gewoond daaraan om met AK47s en pangas gekonfronteer te word... “You call that a knife? Get that shit away from me Soutie!”

Nietemin, op daai stadium het ek nie van beter geweet nie, en beland na donker alleen op ‘n trein stasie. As Suid-Afrikaner is dit tweede natuur om donker, afgesonderde plekke te vermy, so my onderbroekie bewe toe ek die situasie besef waarin ek my vind. Alleen. In ‘n donker, onheilige, onbekende plek. Ek was vas oortuig dat dit die aand was wat ek vermoor sou word – op onskuldige ouderdom van 22...



Soos ek deur die donker gange stap gewaar ek ‘n dame wat so ‘n hele ent voor my stap. Groot was my verligting om nie meer alleen te wees nie! Ons kon mos nou saam alle moordenaars en verkragters beveg! Ek begin toe vinniger stap om haar in te haal of ten minste net nader te stap dat wanneer die kak spat die moordenaar nie tussen ons kan kom nie... Sy loer oor haar linkerskouer en begin vinniger stap. Ek dag sy het die trein hoor aankom of iets, en ek begin ook nog vinniger stap. Sy kyk weer oor haar skouer en begin daai “draf maar ek wil nie lyk of ek draf nie ek loop net vinnig”-draffie te draf. Ek begin draf. Sy kyk weer om. En begin voluit hardloop. En sy begin skree! “Help! Someone help me!” Ek aanvaar sy het ‘n reeksmoordenaar of aanvaller agter my gewaar en besef nou is hier kak. Ek begin ook voluit hardloop. Al gillende (ek gil mos ook al teen die tyd “help help”) haal ek haar uiteindelik in.

Soos wat ek haar toe inhaal besef ek wat aangaan: Sy hardloop vir my weg! Sy dink - onskuldige - ek is die aanvaller!

No no! I’m not the rapist!” Skree ek agter haar aan in beroerde Engels (maar vir een of ander rede hou ek nie op om te hardloop nie!?).
I’m just following you!” En om haar verder te paai voeg ek by. “I’m not a man that’s going to rape you, I’m just a boy!” (Ek weet - dit maak vir my ook geen sin nie.)

Ek slet neer.

In die horror movies as die mense weghardloop vir die serial killer val hulle mos altyd. En dan spring hulle dadelik op en hardloop verder. Ek sal nooit ‘n horror movie oorleef nie, want as ek neerslet dan bly ek eers so bietjie lê en myself jammer kry en voel wat is alles nou weer gebreek... Soos ek toe nou daar in die donker gang lê en myself jammer kry kom staan die vrou hier bo my, en druk so ‘n botteltjie hier reg voor my gesig. En sy pepperspray vir my.

Ek het eenkeer chillies gesny en toe my oog gevryf. Daai’s fokol teenoor pepperspray. Ek het geweet vanaand is die aand wat ek doodgaan. Is jy al ooit gepepperspray? Jy wens jy was dood. Die snot en trane loop orals uit – my oë, my neus, my ore – daar is dele van my lyf wat ek daai aand uitgevind het kan vloeistof afskei wat ek nie voorheen geweet het nie. Trek die vrou los en gee my ‘n skop in die ribbes met ‘n “scumbag!” en verdwyn om die hoek.

Ek het my trein gemis. Ek het my Ma ook gemis.

Riaan Palmer
Share:

Friday, 5 April 2019

Dag van die beduiwelde eiers

Ouvrou Wippers is toe nou uiteindelik dood. Askies dat ek sê “uiteindelik” maar ek glo die dorpenaars sal ieder en elk saamstem dat “uiteindelik” die regte woord is. Niemand is seker hoe oud sy was nie. Katryn Brilboks, die bibliotekaresse, het navorsing gedoen en die vroegste verwysing wat sy in ‘n ou koerantuitknipsel kon kry, dui daarop dat Ouvrou Wippers omtrent 124 jaar oud was.

‘n Mens praat nou nie sleg van ‘n ontslape nie, maar niemand waarvan ek weet het van Ouvrou Wippers gehou nie. Sy was doodeenvoudig nou maar net ‘n onaangename, knorrige vrou. As jy haar die eerste keer gesien het dan sou jy gedink het sy loop en kou ‘n suurlemoen, want jou gesig lyk mos net so as jy iets suur eet. Maar nee, dis sy maar hoe sy gelyk het. Suur. Dis hoe haar hart ook was. Suur. As sy die dorp ingestap het verdwyn die res van die dorpenaars by die anderkant uit. Los sommer alles waarmee hulle besig was net so, of dit nou ‘n trollie vol inkopies of ‘n half-gesette perm was, jy vlug. More is nog ‘n dag. Die wat nog nie van beter geweet het nie, het gaan staan en kyk hoe die ou vrou aangestap kom, want dit was ‘n eiesoortige skouspel. Ouvrou Wippers het mos groot geword in die tyd van korsette en toe sy mondig word weier sy botweg om enige iets aan te trek ‘vir ondersteuning’. Sy het gemeen haar lyf is nie ‘n rankplant wat vasgebind moet word nie, en alles laat loshang wat wou loshang. Na 100 jaar se gravitasie hang dinge wat hang mos maar laer en losser as in die verlede. As sy loop lyk dit kompleet soos ‘n oupa klok met twee pendulums.

Ouvrou Wippers het altyd iets gehad om oor te kla of te kritiseer. Mens sal sweer sy was die gemeenskaplike skoonma vir die hele Vaalwater. As jy per ongeluk paaie met haar gekruis het, dan het die ‘gesprek’ (wat gewoonlik maar ‘n monoloog was) altyd begin met “Wat kyk jy? Ek het nie jou brood gesteel nie!”, al het jy nie eers vir haar gekyk nie. Sodra sy jou aandag het, dan het sy van die geleentheid gebruik gemaak om vir jou mooi te verduidelik wat jou grootste foute was
“’n Dame van jou raamwerk moet mos nie pienk dra nie. Swart is al wat die voue gaan help wegsteek. Dan moet jy begin blare eet. Mens kan mos sien dis al dertig jaar se melkterte wat daar op jou boude lê gekry het. Groen goed is al wat gaan help. Of nog beter: Hou jou kake vir so paar dae stil.”
“Dame, verbeel ek my of is daar alweer ‘n broodjie in die oondjie? Wat is dit nou? Pyporrel nommer 6? Goeie genade. Dalk maar bietjie leer om ‘dankie maar nee dankie’ te sê vir al wat man is wat vra.”
Dan het sy omgedraai en om die hoek verdwyn terwyl jy sprakeloos daar staan en selfondersoek doen.

Die eerste keer wat ek die ou vrou in aksie gesien het, was toe ons by die een en enigste restaurant op Vaalwater gesit. Ons kos het nét gekom, toe sê my pa ons moet maar sit en eet, ons kan nie nou vlug vir Ouvrou Wippers nie. Swaai Ouvrou Wippers die restaurant binne en gaan sit by die tafeltjie langsaan. Ons gesinnetjie staar koponderstebo almal na ons borde kos asof dit die interessantste aanskouing in die geskiedenis van tyd is. Sy bestel ‘n glas kraanwater met ys in, maar “nie te veel ys nie, anders raak die water te flou”. Nie lank nie en sy roep die kelner weer nader.
“Draai bietjie daai lugverkoeler van julle af, kêrel, ek gaan verkluim hier waar ek sit. Die koue gaan sit in my beendere en dan moet ek weer die heeldag sjerrie drink vir bietjie hitte.” Kla sy.
“Ja Dame. Goed Dame.” is al wat die kelner sê en verdwyn agter by die kombuis in.
Enkele minute later klap sy weer haar vingers en beduie die kelner moet vinnig kom.
“Dink jy nou jy is ‘n hanswors? Nou kry ek weer so warm dat ek moet begin klere uittrek om te oorleef. Of is dit jou plan al die tyd? Draai die ding koeler.”
“Nee Dame. Goed Dame.” En hy verdwyn weer by die kombuis in.
So hou dit aan vir omtrent ‘n halfuur. Dán is dit te koud. Dán is dit te warm. Elke keer vra die kelner net om verskoning en verdwyn by die kombuis in. Toe sy uiteindelik haar glas water klaar gedrink het en duidelik so geïrriteerd is soos ‘n mamba met ‘n seer tand, verklaar sy dat sy nie meer honger is nie, en verdwyn swaai-swaai by die deur uit.
Toe die kelner weer by ons tafel uitkom vra my pa hom hoe hy so kalm bly met die moeilike kliënt.
“Nee. Ek gee nie om nie, Meneer.” Antwoord die kelner doodluiters. “Sy’s elke week hier. Elke keer dieselfde storie. Ek’s dit al gewoond.”
“Nou hoekom stel jy nie net die aircon die regte temperatuur dat sy jou kan uitlos nie?”
“Want ons het nie ‘n aircon nie, Meneer.”

Niemand weet hoekom Ouvrou Wippers so suur vir die lewe was nie. Vir ‘n bestaan het sy met slakke geboer en al wat ‘n restaurant in die Noorde verskaf met die beste en grootste slakke wat die Bosveld nog gesien het. My ma meen dit is oordat Ouvrou Wippers heeldag loop en praat het met die goggas in die hokke dat sy nie geweet het hoe om met mense te praat nie.
Dis ook waar hulle die ou vrou gekry het – daar in die slakhokke. Hulle weet nie hoe lank sy dood was nie, want met ‘n lyf wat so oud is weet jy nie wat is die dood en wat is net die ouderdom nie. My pa het gewonder of die slakke aan haar begin eet het, en net daar besluit om nooit weer ‘n knoffel slak by ‘n restaurant te eet nie. My ma was egter van mening dat een slak ‘n hap aan Ouvrou Wippers gevat het, en toe hy proe hoe bitter die vrou is, haar net daar gelos het.

Sy het natuurlik geen kind of kraai gehad nie – ‘n slak is mos nie ‘n kraai nie – so Dominee Sarel het dit maar op sy hande geneem om die begrafnis te reël. Ek het gewonder hoekom enigsins moeite doen, want g’n mens sou wou gaan gedenk of afskeid neem van die vrou nie. My ma het egter aangekondig dat ons gaan begrafnis toe want “sy was ons naaste en mens betoon respek aan jou eie mense”. Blykbaar het almal kammakastig so gevoel want die hele dorp was by die begrafnis. Almal het egter geweet – maar nie gesê nie – dat almal eintlik net wou seker maak dat sy regtig dood was en begrawe word. 



My ma bied aan om te help met die happies vir na die begrafnis en so word die hele gesin in ‘n produksielyn gesit die aand voor die tyd. Ma besluit op beduiwelde eiers (ek weet tot vandag toe nie wat is die regte Afrikaans vir ‘deviled eggs’ nie). Pa dop af. Ma skep eiergeel uit en meng mayonnaise ek vul weer die eierwitte. Nou as ek twee swakhede het is dit fudge en beduiwelde eiers, en laasgenoemde kry jy moes net (vir onbekende redes) op ‘n begrafnis. Dit beteken natuurlik vir elke twee eiers wat ek vul daar net een op die skinkbord beland. Ma wonder aanvanklik hoekom 8 dosyn eiers so min lyk, maar toe ek nie wil aandete hê nie, toe verstaan sy die wiskunde beter.

Volgende oggend daag die hele dorp, al die maplotters en meeste van die Waterberge se boere by die kerk op. Daar was met die Mampoerfees van ‘87 laas so baie mense by die kerk. (Na die nagmaal wynkelkies ook betrek was by die Mampoerfees, was dit die laaste keer wat die fees by die kerk gehou was.) Ekstra stoele word uitgepak, en die sy-saal se deur word ook oopgemaak om plek te maak vir almal. Toe almal ‘n plekkie vir die agterstewe het, word die kis ingedra en Dominee Sarel skop af. Dominee Sarel wat aanvanklik net van plan was om Spreuke 24:17 te lees en vinnig op die gewetens te speel, is verheug om gemeentelede te sien wat hy laas by die Mampoerfees gesien het, en besluit toe om die laaste 3 weke se preke te herhaal vir almal wat dit gemis het.
So begin my marteling.

Daar is mos maar sekere soorte kos wat allerhande chemiese reaksies veroorsaak met ’n mens se maagsure. Kool byvoorbeeld. En uie en bone en brokkoli. En eiers. Met my stadige metabolisme saam het gisteraand se beduiwelde eiers uiteindelik begin verteer. Dit gorrel. Dit broei. Dit kook. Dit maak gasse. Ek voel wat besig is om te gebeur. Dominee Sarel praat. Ek skuif dié kant toe. Dit begin kramp. Ek skuif dáái kant toe. Dominee Sarel praat. Die druk begin opbou en ek besef die kans het gekom en gegaan om stadig en geluidloos die druk onder beheer te hou. As enige kleppe nou oopgaan, gaan dit nie saggies wees nie. Ek konsentreer verwoed om te knyp. Dominee Sarel praat. Die sweet staan op my voorkoop soos kondensasie op ‘n koue bier. Dominee Sarel praat. Ek skuif rond met die hoop om gemak te kry. My ma gee my ‘n knyp - die universele teken dat ek moet stilsit. Dominee Sarel praat. Ek begin koue koors kry soos die druk op al wat ‘n senuwee punt is, opbou. Dominee. Sarel. Praat.

Ek besef hier is moeilikheid. Ek gaan ‘n plan moet maak. So vang my oog die groot Familiebybel langs my en ek kry die beste plan sedert die wiel uitgedink is. Ek gaan ‘per ongeluk’ die Bybel laat val en met die harde knal, sal ek die nodige druk verlig. Ek vat die swaar boek en maak asof ek die vers opsoek waar Dominee Sarel nou trek. Ek leun vorentoe, tel tot by drie en maak my hande oop dat die boeke uitglip en ontspan.
Die Bybel val plat op die houtvloer en die klap geluid weergalm deur die kerk. Almal draai en rek hulle nekke om vir my te kyk. My  tydsberekening was uit. Heeltemal uit.
“Ppppprprprrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrttttttttttttttt!!”
Dominee Sarel is stil. Ek is bloedrooi. Ma is bloedrooi. Pa se oë is toe. My neus begin brand. Ma se oë begin traan en sy gryp haar neus tussen twee vingers vas. Soos ‘n rimpel gaan dit deur die bedompige gebou. Mense kreun en druk hande en kledingstukke voor hulle neuse en monde. Dominee Sarel begin weer praat maar is net drie woorde diep in sy sin toe die reuk by die preekstoel uitkom, en hy weer stil word vir ‘n paar sekondes. Dan aframmel hy af sonder om asem te skep: “Kollektesalbydiedeuropgeneemword. Daariseetgoedindiesaal. Amen.”
So is die iesegrimmige Ouvrou Wippers toe nou die ewigheid ingestuur: Die hele distrik se gesigte met dieselfde wrang uitdrukking waarvoor sy so berug was. 

Riaan Palmer
Share:

Tuesday, 2 April 2019

Sport en so en dit

Waar was ek die afgelope paar weke? Ek gaan jou nou nie verveel met die details nie. Kom ons sê maar net alles wat moontlik skeef kon loop, het. My oog wat altyd aan die spring raak as ek gespanne of geïrriteerd raak (jip, my nervous twitch) het opgehou om te spring en sommer ontaard in een of ander gross infeksie? Nou loop ek rond soos ‘n glorified semi-seerower met net een goeie oog... I kid you not.

Nietemin is die ergste nou verby, maar ek’s nog steeds bietjie tense. Fine. Seker baie tense. Ek vermoed ander mense sien dit ook raak... Die leidraad is dat ek word klaarblyklik deur almal vermy soos ‘n baba se vuil doek. Ek raai ek loop rond met een of ander ‘n aggressiewe uitdrukking op my gevreet, so al asof ek enige oomblik iemand ‘n high-5 gaan gee. Met ‘n kaktus. In die gesig. 

Ek het dit op ‘n stadium oorweeg om my probleme te verdrink in drank, maar uit vorige ervaringe weet ek dit werk nie. Die boggers – my probleme nou - is goeie swemmers, so drank help ook nie. Iemand stel vandag voor (baie versigtig en diplomaties) ek moet dalk dit oorweeg om ‘n sport te beoefen. Dit sal my glo help om van die stres ontslae te raak. Ek gooi my kop agteroor en lag.
Ek? Sport? Uh-huh.
Kom ons dink gou daaroor... Nee.
Wag, laat ek nog daaroor dink.
Nee.
Glo my, dis nie dat ek nie probeer het nie. Die grootste probleem is dat ek is baie lomp. Ek val gereeld sommer oor niks. Dis nogals ‘n kuns om oor niks te kan val nie. (Dis nie dat ek regtig val nie – ek toets net gereeld om te kyk of werk die aarde se gravitasiekrag nog. Probeer hom onkant vang deur elke nou en dan vir geen logiese rede net neer te slet.)
Ek ontdek ook gereeld blou kolle wat ek geen idee het waar dit vandaan kom nie. Gebeur dit met ander mense ook? Kom agter daar is ‘n moerse blou kol hier in jou binnebeen – sommer maar net? (En wat is die eerste ding wat jy doen as jy ‘n nuwe blou kol ontdek? Jy druk hom met jou vinger mos. Die mens is ‘n vreemde skepsel...)

Ek was van jongs al berug daarvoor dat ek nou nie heeltemal (lees: glad nie) sportief was nie. As daar spanne gekies was tydens pouse vir speletjies, dan was ek altyd laaste. Ja, ek is letterlik gekies ná kruppel Chris en Michael met twee gebreekte arms. So nie ‘n positiewe konnotasie met sport om mee te begin nie.



Die feit dat ek normale lengte is, en die res van julle kort gatte ‘n kop korter as ek is, het darem verseker dat ek die eerste keer wat ek probeer rugby speel het, ek span gekry het as slot. (Die gerugte oor my bal vaardigheid – of tekort daaraan - het duidelik nie by die onnie uitgekom nie...)
Ek het geen idee gehad oor rugby reëls nie (nie dat veel verander het in die afgelope 30 jaar nie) maar ek was vasbeslote om rugby te speel. Net mooi die eerste dag oefen ons lynstaan. Die manne verduidelik waar ek, as slot, moet staan. Dit is ál verduideliking wat daar aan my gegee is. Volgende oomblik skree die skrummie (of is dit nou die heelagter of die goalie? – Weet nog steeds nie...) “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” en gooi die bal. Wat de moer beteken dit!? Ek kyk rond wat doen die ander ouens om my. Die ander ouens gryp my aan die broek en lig my op. Ek raak aan die spartel. Ek het geen clue wat nou aangaan nie, maar blykbaar kry ek nou ‘n galactic wedgie!? (Ek haal tot vandag toe nog stukke van daai onderbroek uit my ollie uit) Klaarblyklik moes ek die bal vang... Nou weet ek ook. (Wat ek nie verstaan nie, is hoe moes ek weet “Mickey Mouse, 87, 4, 4, zebra” beteken ek moet die bal vang!? Was daar ‘n spanoefening wat ek gemis het waar hierdie geheime kodes gedeel is? Almal het geweet wat dit beteken, behalwe Riaan. One of life’s great mysteries.)

But anyway. Meneer besluit toe nee, ons speel bietjie. Daar word hierdie kant toe gehol en daai kant toe. Dan word daar geskrum. Daar moet eers weer aan my verduidelik word wie staan waar en hoekom. Ek kry ‘n moerse skok toe iemand my net hier duskant die crown jewels gryp toe die skrum sak. Ek spring op en begin die skuldige opspoor. Daar word verduidelik nee dis maar hoe en waar daar vasgehou word... So much for personal space. Mense. Julle het geen idee wat gebeur daar binne in die skrum nie! Geen idee.
Uiteindelik kry ek die bal. Wat doen Riaan die heel eerste keer wat hy ooit ‘n rugbybal in die hande kry (en wonder bo wonder raak vang)? Hy skop natuurlik – wat sal die slot dan nou anders met die bal maak? Die heelagter het die bal baie mooi gevang. Dis nou, my eie heelagter, wat agtertoe moes hardloop om die bal by ons eie doellyn moes vang.

Lang storie kort: Meneer skree. Riaan pluk sy moer, klim op sy fiets en ry. “Fok julle. Kry vir julle ‘n ander slot. My ore gaan in elk geval nie hierdie geskrummery hou nie. I’m out.” Laaste wat ek en rugby iets met mekaar te doen gehad het.

Krieket het ook nie veel beter gevaar nie. Eerste keer wat ek kolf, gooi die stupid bouler die houtjies wat agter my staan om. Ek gil op die bouler dat hy moet gooi vir my kolf, nie vir die houtjies nie. Idioot! Toe ek na vele probeerslae uiteindelik die bal raakgeslaan kry, tref die bal my reg op die oog (g’n niks helmets daai tyd nie!). Dit sou ten minste ‘n 4 gewees het as my gesig nie in die pad was nie... Moerse eier. Tranedal. Fok dit. Ek hou duidelik nie van krieket nie. Maar Meneer oortuig my om net bietjie vas te byt en sê ek moet bietjie by die reserwes gaan sit, dis nie so erg nie.

Ek het lankal my mind opgemaak, want wie wil in elk geval heeldag lank op die veld staan en wag dat die bal eendag in jou rigting kom? Ain’t got no time for that shit. Nietemin gaan sit ek langs die veld en ontdek iemand se sak met al die krieket gear in. Alles nuut vir my, gaan ek deur die toerusting. Pas die maermerrie-beskermers aan. Handskoene word aangetrek waarmee die naaste reserwe dadelik geboks word. So hamer-affêre met ‘n bal aan wat g’n mens weet wat jy mee doen nie... Uiteindelik ontdek ek so ‘n wit, driehoekige bakkie met gaatjies in. Ek draai die ding al in die rondte maar kan nie uit-figure wat die ding moet doen nie. Uiteindelik maak die vorm vir my sin – ‘n driehoek... Die skerp hoek kom oor jou neus en die breë kant “onder” kom oor jou mond? Ek druk die ding oor my gesig, draai na die naaste reserwe toe en sê “Psssfffft. Luke... I’m your father...” met ‘n Darth Vader stem. Die reserwe kyk my net met sulke groot oë aan. (Ja, Anton, ek onthou asof dit gister was! Jou varknek! Jy kon my gesê het, maar nee, laat Riaan maar sy naam vergat!) Dis eers jare later wat ek uitvind dit is ‘n “ball box”, en jy sit hom definitief nie op jou gesig nie. Ooit. Sommer heeltemal genees van krieket as daar nog ‘n kans was...

So is ek van sport na sport. Geen teken van ‘n spier om ‘n gewigstoot bal te gooi nie. Te rigting beduiweld om ‘n diskus te gooi – na klagtes van vele omstanders is ek verbied om verder te probeer inkom vir diskus. Hoogspring? My brein wil net nie toelaat dat ek agterstevoor oor ‘n lat spring nie. My fok, as jy oor iets spring, dan kyk jy mos waar jy spring. Jy val nie blindelings en hoop jy land op ‘n matras nie.

Tennis? Die ou fyn handjies het na die eerste stel ‘n halfdosyn blase opgelewer. Waarvan een nogal op my linkerhand was – nie eers die hand waarmee ek die raket vasgehou het nie.

Golf? My brein wil dit net nie verstaan nie. Dit maak doodeenvoudig nie sin nie... Moer die bal. Soek die bal. Moer die bal. Soek die bal. 18 bane lank. En asof dit nie moeilik genoeg is om net die bal raak te slaan nie, gaan sit een of ander siek bastard nog sandputte en damme die hele veld vol. Dis seker ‘n joke?

Boks? Ek gaan sommer skip oor die feit dat dit bietjie barbaars is in my opinie, en die olifant in die vertrek aanspreek: Twee halfkaal mans wat in hulle onderbroeke baklei oor ‘n belt vol blink goedjies en badges? Ouens. Klim uit die kas uit. Aanvaar julle seksualiteit. Dis oraait.

En nevermind eksotiese sporte soos “surfing”. Ek kan net-net regop bly, as ek hard konsentreer, op droë grond. Ek staan mos nou geen kans om op ‘n plank op die see regop te bly nie...

As ‘n laaste wanhopige poging was ek nou-die dag by ‘n gym. OK, fine. Ek was by Ed’s Diner en die waiter se naam was Jim – dis amper dieselfde ding...

Ek het probeer. Ek het aanvaar. Ek het aanbeweeg met my lewe.

Nou ja, as iemand ‘n ander voorstel het vir “stress release” – anders as drank en sport, ek luister. Want dis net ‘n kwessie van tyd voor ek ‘n ongeluk by die werk het en per ongeluk iemand wat drooggemaak het met die stapler in die nek bykom.

Riaan Palmer
Share:

Sunday, 24 March 2019

Oom Huilwa, Ta’ Brieka en die walvis



Ek gaan nou nie so ongeskik wees om te sê Oom Huilwal was lelik nie. Ek gaan maar net sê sy gesig was onnetjies. Dit het half gevoel of al die parte op sy gesig nie mooi gesit het waar hulle moes sit nie. Ek kan ook nie veel meer sê van Ta’ Brieka nie. Daar is al gesê dat sy ‘n afdraande gesig het soos ‘n boerboel. Ek sê dit nie – ek sê maar net wat ander mense sê. Dit was toe ook nou geen verassing vir enige iemand op Kakamas toe die twee aankondig dat hulle die knoop gaan deurhaak nie. Dis maar net iemand met so ‘n gesig wat iemand anders met so ‘n gesig kan verstaan en onvoorwaardelik liefhê. En op ‘n klein plekkie soos Kakamas is die opsies maar min.

So is die twee getroud en het huis opgesit in ‘n klein huisie naby die poskantoortjie waar Oom Huilwal gewerk het. Hulle het nooit kinders gehad nie. Niemand is seker of dit weens mediese redes was en of dit ‘n tekort aan fisiese aantrekkingskrag (of fisiese aanraking?) was nie. Maak nie saak hoe groot die liefde is nie, daar is seker tekortkominge wat selfs die liefde nie kan oorbrug nie. Hoe dit ook al sy, meeste dorpenaars het gevoel dis beter dat daar nie kinders vir hulle bestem was nie – die paartjie sou waarskynlik nie kinders opgelewer het waarvan jy wou foto’s neem nie.
So het Oom Huilwal en Ta’ Brieka maar hulle lewe geleef. Oom Huilwal het basies die hele poskantoor man alleen beman. Hy’t die pos sorteer, seëls gelek, pakkies aangedra, stempels geslaan en ook self die pos afgelewer. Hy’t nooit soos ander posmense probleme gehad met die honde as hy gaan pos aflewer nie, want al wat ‘n dorpsbrak het stert-tussen-die-bene weggehardloop as hulle hom gewaar het – almal het maar aangeneem dis oor daai onnetjiese gesig.

Ta’ Brieka het weer gebrei vir ‘n ekstra geldjie. Hetsy dit nou ‘n matriekafskeidrok, rugbytruie vir die verbeteringskool se derde span of geheime babaklere vir nog ‘n tiener se hormoon probleem was, Ta’ Brieka kon enige iets met wol en ‘n nommer 9 breinaald regkry in rekordtyd. Sy het self met die (geleende poskantoor-)bakkie na die nabygeleë wolboere toe gery, en die skape met die hand gaan kies waarvan sy wou wol hê. Die skape het darem nie vir haar weggehardloop soos die dorpshonde nie – seker maar te dom om te onderskei tussen mooi en lelik.

Jaar in en jaar uit het Oom Huilwal en Ta’ Brieka hulle dae verwyl met briewe en venstertjie koeverte en klikkende breinaalde onderskeidelik. Die eenvoudige lewe het hulle nooit ryk gemaak nie, maar ten minste het hulle nooit honger gaan slaap nie.

Dit het Oom Huilwal jare geneem om agter te kom daar skort iets met Ta’ Brieka. Hy het waarskynlik al vroeër onraad vermoed, maar was nie seker of dit nou maar net was hoe Ta’ Brieka se gesig begin lyk het met die ouderdom saam nie. Jy vra nie iemand met so ‘n gesig hoekom lyk hulle bek-af nie. Dis dalk maar net hoe hulle lyk. Oom Huilwal se vermoede was egter bevestig toe hy agterkom Ta’ Brieka sug meer as gewoonlik. Sulke lang, diep sug. Van daai waar die gras nie weer groei waar hulle val nie.
Toe hy een oggend die kombuis instap kry hy vir Ta’ Brieka waar sy by die venster uitstaar en sug na sug uiter, skep hy uiteindelik genoeg moed bymekaar.
“Wat is fout, my Pompelmoes? Jy… Jy lyk… Jy lyk hartseer?”
“Ag my Pampoenstingel, dis niks. Ek’s sommer net laf.” Antwoord sy sonder om eers om te kyk, maar nie baie oortuigend nie.
“Praat met my, my Bokboudjie. Wat maak jou hart so swaar?”
Sy’t haar kop half in skaamte laat sak asof sy iets verkeerd gedoen het. “Ek wil op die boot gaan ry. As daar net een ding is wat ek in my lewe wil doen, is dit om op die boot te gaan ry. Maar ek weet daar is nie sulke soort geld nie.”
Oom Huilwal het sommer aan die glimlag gegaan. “Maar dis mos nie ‘n probleem nie, my Bosduifveertjie. Ek ken mos vir Dikfaan wat die toeriste op die boot op die Oranjerivier uitvat. Hy sal jou vir goedkoop of dalk verniet op die boot uitvat.”
Ta’ Brieka het weer diep gesug. “Nee Huilwal. Ek bedoel die skip. Op die see. ‘n Pretvaart op een van daai groot bote soos die Titanic.”
Oom Huilwal se gesig het geval. Hy wou eers antwoord dat die Titanic gesink het; vir wat wil sy nou sulke kanse vat. Maar hy’t stil gebly. Hoe lank voel Brieka al so? In die 30 jaar van getroude lewe was hulle nog nooit met vakansie nie. Nie een van hulle twee het eers al die see in lewende lywe gesien nie. Hulle het doodeenvoudige nog nooit geld gehad vir sulke luukshede nie.

Vir dae daarna het Oom Huilwal met hangskouers rondgeloop, gelyk asof hy konstant teen ‘n opdraande loop. En net ewe skielik, een dag was daar ‘n glinster in sy oë. Hy het met so ‘n huppel in sy stap geloop. Party mense het selfs gesê dat sy gesig bietjie netjieser begin lyk het.
So begin Oom Huilwal spaar. Mense wat pakkies pos se pakkies weeg skielik swaarder as wat hulle gedink het. Oumas se verjaardagkaartjies aan hulle kleinkinders met 2-Rand note in begin verdwyn.
“Seker daai klomp in Jo’burg se sorteer pakhuis. Grootste klomp skelms ooit. Steel al wat ‘n ding is – behalwe natuurlik venstertjie-koeverte.” Verduidelik Oom Huilwal as die dorpsmense navraag doen.
‘n Jaar later tik Oom Huilwal vir Ta’ Brieka op die skouer waar sy by die venster staan en sug.
“Pak jou tas. Ons gaan op die boot.” Sê hy vir haar met ‘n oor-tot-oor glimlag.

Die feit dat sy nie ‘n reistas besit het nie was aanvanklik ‘n struikelblok om die opdrag uit te voer, maar minute later staan sy voor ‘Tasse, sakke & goete (Pty) Ltd’ se deur in Kakamas se hoofstraat om een aan te skaf. Sy loop van winkel om voorraad vir die reis te koop. Naar pilletjies want haar lyf ken tog niks anders as vaste grond onder haar nie. Biltonge en sout koekies want ‘n Afrikaner se kake moet mos altyd beweeg. Sonbrand olie want die see se son is mos harder as die Karoo se son. Sy stop selfs by die klerewinkel om vir haar ‘n bikini en vir Oom Huilwal ‘n Speedo te koop. Die verkoopsdame probeer hard om eerder ‘n eenstuk baaikostuum aan Ta’ Brieka af te smeer (vir die onthalwe van almal wat haar ter aanskoue moet neem – ‘n bikini is mos maar eintlik bedoel vir sag-op-die-oog mense) maar Ta’ Brieka verduidelik dat alles moet oop wees vir die vars lug op die water. Sy kon seker maar ‘n bikini gebrei het, maar sy’s nie seker wat maak wol in die see se soutigheid nie. So word die tassie vir weke lank in en uitgepak totdat sy uiteindelik tevrede is dat die regte goedjies gepak is vir die belangrike reis.

Drie dae voor die paartjie die bus moet vat Kaapstad toe, kan Ta’ Brieka nie meer slaap nie – van die opgewondenheid – en sy gaan sit by die voordeur langs die tas en begin een swem mussie na die ander een vir die bemanning van die boot brei. Oom Huilwal sien dit gaan probleme veroorsaak en gooi maar ‘n slaappil in Ta’ Brieka se tee om seker te maak sy’s uitgerus wanneer hulle op die boot klim. Hy weet egter nie van dosisse af nie en Ta’ Brieka word eers wakker soos die bus die afdraai vat Paarden Eiland toe – drie dae later.

Uiteindelik is die twee ingeboek op die boot en voor jy kan sê “mes” is Oom Huilwal in sy Speedo en Ta’ Brieka in haar bikini, altwee op ‘n sonstoel en ‘n drankie met te veel sambreeltjies, kersies, strooitjies en rum in, in die hand. Ander passasiers se monde hang oop en kinders gaan aan die huil in aanskoue van die tweetjies, maar met gesigte soos daai gee mens na jare nie meer om wat ander mense dink nie.

“Ek is lief vir die see.” Sê Ta’ Brieka terwyl sy grootoog oor die oneindige blou water staar. “Ek weet nie of ek ooit weer sal kan Kakamas toe gaan nie.” Oom Huilwal knik net ingedagte.
Dag twee, net na middagete kan Oom Huilwal dit nie meer inhou nie. Dis tyd vir die “pièce de résistance”.

“Kom Brieka. Ek het ‘n verrassing vir jou.” Sy volg hom vraend deur die gange van die boot tot by die Spa se deure.
“Give her the whole treatment. Everything.” Sê Oom Huilwal vir die verskrikte Filippynse meisietjie agter die toonbank, terwyl hy stout vir Ta’ Brieka knipoog en sy skoon aan die bloos gaan. Die meisietjie lei Ta’ Brieka na so ‘n kamertjie toe en beduie dat sy moet lê, maar met haar gesig na onder toe asseblief en dankie. Ta’ Brieka voel soos ‘n prinses en gaan lê op die bedjie wat ook maar steun en kreun om die boertannie bo te hou. In die agtergrond speel panfluit musiek. Of is dit nou walvis geluide? Net die geoefende oor ken in elk geval die verskil. ‘n Ander meisietjie kom in en begin olies oor die tante se lyf smeer. Dan druk sy hier en masseer daar. Dan word daar ander eksotiese olies en kruie aangevryf. Ta’ Brieka is in vervoering met die reuke. Haar lyf ken mos ook maar min van fisies aanraking en die gevrywe maak die tante se lyf weer half aan die lewe kom in plekke waar die leweloosheid reeds jare skuil.

Na ‘n paar uur kom Ta’ Brieka uiteindelik te voorskyn in die Spa se portaal waar Oom Huilwal geduldig sit en wag. Hy kyk haar op en af. Sy blink en gloei. Hy’s nie seker of dit al die gesogde olies is of wat nie, maar sy vrou lyk vir hom pragtig. Dalk is dit die breë glimlag op haar gesig wat die mooiheid laat uitkom? Sy vrou is gelukkig. Hy is gelukkig.
Saam gaan lê die tweetjies weer op die dek van die skip. Oom Huilwal haal die bottel sonbrand olie uit en begin Ta’ Brieka se rug smeer. Soos wat hy smeer begin Ta’ Brieka rondskuif. ‘n Stoom wolk slaan uit haar rug uit.

“Wat maak jy!?” Gil Ta’ Brieka en spring regop soos ‘n nuuskierig meerkat. “Dit brand!”
Oom Huilwal tree verskrik agteruit. Die stoom wolk verander in ‘n rookwolk soos wat die vlamme op Ta’ Brieka se rug staan. Oom Huilwal sien die vlamme maar staan versteen. Hy dink aan hoe hy die mense wat pakkies gepos het ingedoen het. Hy dink aan klein Mattewisiena wat met trane in haar oë kom vra het of haar Ouma se verjaardag-geld al gekom het. Elke sent wat hy by die mense gesteel het is nou ‘n vlam op sy vrou se rug. Dan gooi Ta’ Brieka haar hande in die lug, hardloop twee keer in ‘n sirkel en spring oor die reëling in die see. Daar is mense wat skree. Alarms wat loei. En chaos.
Na 3 dae gooi die soekspan die handdoek in. Ta’ Brieka is weg. Geen lyk. Geen ledemaat met haai-vormige bytmerke nie. Geen bikini oorblyfsel. Niks. Sy is net weg.

Die ondersoekbeampte meen die sonbrand olie wat vir 47 jaar op Kakamas Korporasie se rakke gestaan, het ‘n chemiese reaksie met al die eksotiese spa olies gemaak en aan die brand geslaan.
Oom Huilwal sien en hoor niks wat om hom aangaan nie. Hy staar net die diep blou see in. Hy weet wat hy gesien het. Sy’t dalk nou nie in ‘n pragtige meermin verander nie, maar dis die beste wat sy kon doen. Daar is nou nog ‘n walvis in die see. ‘n Groot, onooglike vis vol knobbels wat nooit weer vir Kakamas gaan sien nie.
Share:

Wednesday, 23 January 2019

Eet ‘n hoenner

Soos dit ‘n Maandag-oggend betaam, is daar toe nou ‘n moerse f-op, op die N1 voor die Atterbury-afrit, een van die besigste interseksies in die land. Nou gewoonlik sal mense alternatiewe roetes kies om die ongeluk te vermy, maar vandag sien ek ‘n weird patroon – dis asof die verkeer in die rigting van die ongeluk vloei. Totdat ek nou uitvind dis ‘n trok wat lewendige hoenders vervoer het wat skuins gaan lê het op die snelweg, en ewe skielik lyk die N1 soos ‘n Rainbow Chicken plaas – dosyne en dosyne hoenders wat getraumatiseerd deur die ongeluk, verward rondloop en teer pik. En met die wat dit (soos julle weet) dag 938 van Januarie 2019 is, is almal op pad na die toneel van die ongeluk met die hoop om ‘n lewendige hoendertjie te ontvoer... Mense raak desperaat die tyd van die jaar – die yskas en kaste is leeg, so ons sien kans vir ‘n brandmaer hoender wat tien-teen-een Newcastle-siekte het...



Ja nè, ons doen dit elke jaar. Desember kry ons bonus en dan leef ons asof daar geen einde aan ons geld is nie... Eet elke tweede aand KFC (want dis tog net ryk mense wat KFC kan bekostig), vaar Woolies in en koop mos al wat ‘n fancy ding is wat jy in jou lewe nie sal koop as jy helder dink nie: Alles van walvis-kaviaar tot ingevoerde skoenlapper-lewer-patee. Dink mos niks daarvan om 3-ply toiletpapier te koop nie. For why? Because we can.

30 Desember 2018 - Jy wil jy bietjie uitgaan en iets gaan doen want jy raak nou verveeld, dan besef jy, jy het geld nodig om iets te gaan doen, maar ewe skielik is die onbeperkte fondse van 15 Desember BAIE beperk. Jy begin sommetjies maak en jy kom agter jy’t so 73.5673 sent oor per dag tot die volgende payday. Sug.

7 Januarie 2019 – Skielik kom jy agter jy’t nog nie die kinders se skoolgoete gekoop nie. Jy sit ‘n hoed, serp en ‘n donkerbril op en glip by Pep stores in met die hoop dat niemand jou gaan sien nie (want onder normale omstandighede sal jy mos nie dood in ‘n Pep stores gesien word nie). Jy gewaar jou vriendin wat in Mooikloof bly ook in Pep Stores en julle ignoreer mekaar totaal-en-al. Daar is party goed wat mens net nie erken of oor praat nie.

9 Januarie 2019 - Jou kind gewapen met die goedkoopste no name brand skryfbehoeftes, kom jy agter jy’t nou net 38.4593 sent oor per dag tot die volgende payday. Skielik het jy die behoefte om met daai familie-lede kontak te maak met wie jy ‘n jaar laas gepraat het. Die feit dat hulle moer ryk is en dalk vir jou geld sal leen het niks met die prys van eiers uit te waai nie...

11 Januarie 2019 - Kom aandete, slaan jy moedeloos die yskas oop. Daar is ‘n tupper-bakkie heel agter in die yskas wat left-over pasta in het wat jy iewers in Julie laas jaar gemaak het. Jy wonder is dit nog eetbaar. Kos hou mos vir ewig in Tupperware. Jy maak die bakkie oop en loer in. Dit wat daar binne is probeer jou aan die oogbal byt. Die pasta is lankal nie meer pasta nie, en wat dit ook al nou is, het klaarblyklik nou ‘n lewe van sy eie. Jy gooi maar die bakkie weg.



12 Januarie 2019 – Jy staan verslae voor die vrieskas. Daar gaan ook nie veel aan nie. Daar is ‘n pak kookbene, maar dis al so wit van die ys dat argeoloë dalk meer waarde as jy daaruit gaan kry... Daar is ook ‘n pakkie ‘pet mince’. Jy wonder ernstig wat is die verskil tussen ‘pet mince’ en mince vir mense... Jy hou die gedagte maar in jou agterkop – plan B.

15 Januarie 2019 - Jy slaan die spens oop en bekyk die rak waar die blikkieskos altyd staan. Daar is nou niks. Jy staan op jou tone en loer na die heel boonste rak. Daar, doer in die donkerste hoek staan ‘n enkele blikkie stoksielalleen en gluur jou aan. Jy sleep hom nader. Dis ‘n blikkie tuna. Dit het in 1957 verval. Jy’s nie seker hoe hy daar gekom het nie, want jy’s eers in 1983 gebore. Jy gaan vra vir Google hoe lank tuna kan hou in ‘n blikkie. Dis nie goeie nuus nie.

17 Januarie 2019 – Die laaste grondboontjiebotter is op, en jy weet nie meer wat om op die kinders se toebies te sit skool toe nie. Jy ontdek ‘n bottel nastergal konfyt wat jy jare terug van ‘n tante af persent gekry het. Jy weet nie wat is nastergal nie, maar jou kinders gaan nou uitvind hoe dit proe. Die deksel kry jy norremoer oopgedraai en jy slaan die bottel se kop af teen die rak. Jy hoop maar vir jou kinders se onthalwe dat jy al die glasstukke uitgekry het.

18 Januarie 2019 – Daar is ‘n ou op die ‘Ek’s van die Ooste’ Facebook groep wat wil weet of is dit wettig om hoenders in die stad aan te hou, want sy buurman het hoenders en hulle pla hom. Jy stuur vir hom ‘n privaat boodskap en sê jy sal van sy probleem ontslae raak – gratis en verniet. Hy moet net sy buurman se adres stuur en laat weet wanneer die buurman nie by die huis is nie...

20 Januarie 2019 – Jy begin Google of het jy regtig 2 niere nodig om te oorleef en waar jy ‘n nier op die swart mark kan verkoop. Jy lees egter dat jy jou drinkgewoontes sal moet verander, en sit dit eerder in die ‘Plan B’ kategorie.



21 Januarie 2019 – Jy begin nou kreatief raak met die kinders se toebies vir skool. Jy smeer Colgate op en sê vir hulle dit is Disney se Frozen se nuwe peperment-sjokolade toebroodjiesmeer.
Jy hoor op die radio daar het ‘n trok met hoenders op die snelweg gerol. Jou planne vir die dag verander baie vinnig. Jy laat weet jou baas dat jy gaan laat wees...

Sug. En so gaan dit.

Kon een van julle darem toe ‘n hoender gevang kry?
Die goeie nuus is daar is nog net 39 dae oor voor payday.
Ek het geen verdere raad nie. Behalwe: Hou in gedagte dat as jy R50 in jou bankrekening het, en jy trek geld by die OTM: die transaksie koste is R15, so jy’t eintlik net R35... Ek praat uit ondervinding...
Share:

Friday, 7 December 2018

Loadshedding. Hoe dan nou anders?


Kom ons kry dit sommer uit die staanspoor uit die weg want ons weet almal ek moet dit sê... (Ma en ander Sensitiewe lesers: druk gou julle oë toe.) Fok Eskom. En fok sommer vir Jan van Riebeeck ook want obviously is dit eintlik sy skuld. Stupid Hollander, hoe durf hy? 
(OK, sensitiewe lesers julle kan maar weer julle oë oopmaak, dis verby.)


Ek kan sekerlik nie iets sê oor load shedding wat iemand nog nie gesê of gedink het nie. Dis kak (askies daai het uitgeglip voor ek julle kon waarsku). Eskom besluit Black Friday is so gewild hulle gee sommer vir ons elke dag bietjie Blackness. Hoe bedagsaam van hulle. En probeer nou beplan vir die load shedding...? Good luck with that shit.
Ek: “So watse fase load shedding het ons vandag?
Eskom: “Uhm... wat van 1, nee wag 3! Of wat van 7...? Kom ons sê so: Niemand weet nou eintlik nie, ons gaan net die krag lukraak begin afskakel.
Ek: “...”
Ek: “Wat beteken ‘fase 2’ dan nou eintlik?
Eskom: “Jy kan enige iets van 1 tot 5 ure sonder krag sit.
Ek: “Nou hoe weet ek wanneer gaan my krag af wees?
Eskom: “Gaan kyk op die skedule.
Ek (nadat ek ‘n halfuur lank ‘n moerse tabel met nommers en kleure en goete bestudeer het):  So Moreleta Park is in groep 23.3784b en dis ‘n Vrydag en dis die sewentiende dag vandat ‘n hoender ‘n eier gelê het op Nkandla en dis donkermaan, so ons gaan... van kwart oor 3 tot 75 minute na 42 af wees?
Eskom: “Eish... Maybe...
Ek: “...



En so gaan dit maar. Your guess is as good as mine. Of jy kan die App download. “Eskom se Push”, maar ek voel bietjie vuil om dit op my foon te hê. Tensy die naam maar net baie toevallig is en ek net vuil gedagtes het.

Dis fine, ons kan seker vir 2 ure sonder krag sit as jy by die huis is. (Alhoewel hier in die Ooste  sit ons meer sonder krag as met krag, of wat sê ek Garsfontein & Faerie Glen?) Solank jy net jou Load Shedding essentials het: ‘n Kers, ‘n pakkie matches en ‘n boek of ‘n ge-charge-de foon. As jy ‘n man of vrou het kan julle altyd met mekaar praat en verras wees oor hoe aangenaam hulle eintlik is. Maar dis onbewoordbaar (daai is nou sopas ‘n woord – neem kennis HAT-mense!) om in die verkeer gevang te word. Dis aanvanklik nie te erg nie want jy’t air con en ‘n draadloos in die kar – die probleem is dat ewe skielik kan niemand meer bestuur nie.
‘n Verkeerslig wat af is, is nou ‘n 4-rigting stop? Wat bedoel jy? 4. Rigting. Stop. Nog nooit daarvan gehoor nie! Nee, nee. Ons ry sommer net wanneer ons voel in ons linker-tiet dis nou ons beurt...
Teen die tyd wat ek by die huis stop sit ek 10 sentimeter hoër as wat ek eintlik lank is – soos wat ek in my broek gebollie het oor mense se onvermoë om te kan bestuur... (Dis darem een goeie ding van Eskom – nie een enkele Suid-Afrikaner sit meer met hardlywigheid nie.)

Gaan ons iets sê oor die feit dat ons almal ons salarisse gaan blaas het by Santa’s Warehouse op nuwe krismis liggies net om nou in donkerte te sit? Miskien is dit juis die probleem? Dalk kan Eskom nie byhou met al die krismis liggies wat die Ooste van Pretoria opsit nie? Ek meen, julle ouens daar in Lawley straat, Brooklyn het ‘n kern kragstasie nodig net vir julle se liggies alleen.
Eskom is seker ook die enigste “besigheid” in die hele wêreld wat hulle kliënte vra om nie hulle produk te gebruik nie?!



Maar wat kan ons doen? Weier om ons krag te betaal? Kan ook nie dit doen nie, want dan sny hulle jou krag! ... Ek is net nie heeltemal seker hoe dit anders is as wat in elk geval nou aangaan nie?
Ten minste het onse mense darem ‘n sin vir humor... Lag met ‘n traan of is dit nou huil met ‘n glimlag? Die Eskom grappies trek ons darem deur die moeilike tye... Ons sal dit ook oorleef. Ons is eintlik ‘n klomp tuwwe koekies, so deur die ge-moanery deur.

Hoe survive jy load shedding?
      1. Pak ‘n Load Shedding Survival Pack: ‘n Boek. ‘n Kers. ‘n BIC lighter. ‘n Skoon onderbroek of pantie. (Maak nie saak hoe jy jouself sielkundig voorberei nie, jy gaan in jou broek bollie as die krag afgaan.) Voorbehoedmiddels. (Jy weet nooit wie wanneer in ‘n goeie bui gaan wees nie. Ons soek nie ‘n generasie “Annetjie Diekragwasaf van der Merwes” nie!)
      2. Wees altyd gereed. Dit is onmoontlik om te weet wanneer jou krag gaan af wees. Dit gaan dalk af wees of nie. Dalk vir 5 minute. Dalk vir 5 dae. Ons hou mos van 'n surprise. Hou maar net jou survival pack altyd by jou.
         3. Hou jou foon altyd ge-charge. Hierdie oomblik kan dalk die laaste oomblik wees wat jy vir ure of selfs dae gaan krag sien.
.       4. Braaihout. Baie braaihout. Kry resepte om vir ontbyt, brunch, lunch, ligte snacks, Sondagete en midnightsnack te kan braai. Daar gaan 'n punt kom dat ons so goed kan braai dat ons 'n gebakte eier op 'n rooster sal kan braai.
      5. Lees die K53 pad reëls. Probeer dit onthou want dit bly verdompwil presies dieselfde of daar nou krag is of nie.
6. Kry vir jou ‘n kontak wat Valium verkoop. (Laat weet my asseblief ek soek ook.) Alhoewel bobbejaan-twak is mos nou “wettig” so daar is ‘n alternatief. (Is dit nie baie toevallig dat dagga nou wettig is, en Eskom nou weer probleme het nie?) Net iets om jou te help ontspan want die f^#$ weet...

Sug. 

Ons troos ons darem daarin dat die Eskom base ook nie op Desember vakansie mag gaan nie – of so is hulle georder deur Gordhan. Lekker, julle bliksems! 


Share:

Thursday, 29 November 2018

"Bad bomme"


Die afgelope week was woes sê ek vir julle! Daar was die hele Black Friday affêre. Alhoewel ek nie die binnekant van ‘n shop gesien het nie, was net die gedagte daaraan genoeg om my uit te put.

Julle het seker al die Black Friday video’s gesien? Daai wat wys wat geneur as Game hulle deure oopswaai (of probeer oopswaai) en daai skare mense die winkel instorm... Die deure word sommer van hulle skarniere af gehol. Jy moet jou storie ken hoor. As jy neerslet daar is dit neusie verby... Die skoonmakers gaan jou later met die mop kom opvee – daai nat kolletjie wat oor is van jou. Dis soos ‘n episode van ‘The Hunger Games’. Al verskil is die laaste survivor wat bly staan kry die TV teen 5% afslag. Really people? As ‘n TV R10 000 gekos het, en hy kos nou R 8 000 het jy nie R 2 000 gespaar nie – jy het R 8 000 uitgegee...




 En dan sien jy daai trollies met die berg toiletpapier in, en jy wonder watse soort kak het die mens in hulle lewe? Of het jy gaan Krismis presente koop? Het daai presente nou meer betekenis met die wete dat jy ‘n vuisgeveg met ‘n Fortuner Tannie gehad het en jy as die oorwinnaar weggestap het, en sy ‘n nuwe neus moet gaan shop?

Ek moet egter bieg: Ek het ietsie by Takelot geshop. Ek besit nou ‘n high-pressure hose. Ek weet nie wat ek met hom gaan doen nie, maar ek het nou een. Laat weet maar as jy hom wil leen.
Saterdag weer was die verkeer nog steeds hectic... Luister nou mooi – ek gaan dit net een keer sê: As jy ‘n rooi ‘L’ in jou agterruit het, dan bly jy verdompwil by die huis op ‘n Saterdag. Julle gee die res van ons hart palpitasies! Saterdae is net bedoel vir ekspert bestuurders!
(En ek wil so graag weet wat het Saterdagaand in Rubenstein gebeur... ‘n Bakkie het aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ander kar vasgery... Hoe getrek moet jy wees om in ‘n 60 sone aan die verkeerde kant van die pad in iemand vas te ry.)

Sondag moes ek noodgedwonge Afrikaans is Groot gaan kyk. Dis was stresvol want ek het ek het verwag ons gaan een na die ander ““Bokkie, meisie, baby jou asem laat my hart vinniger tjoklits pomp as die seile span” liedjie gesing deur die populiste, hoor. Ek was darem net halfpad reg. Daar was darem ‘n paar kunstenaars wat die saak gered het. Soos Elvis Blue... Ek LOVE Elvis Blue. Hy het soveel persoonlikheid en hy sing awesome. Ek wil hom optel, veilig in my sak sit en net uithaal by spesiale geleenthede.

Teen Maandag is ek so op die edge gewees dat ek amper weer ‘n dommetjie by die werk getref-en-trap het. Ek dag toe nee ek sal iets moet doen. Ek is te mooi om tronk toe te gaan vir moord, ek sal dit nooit oorleef nie. Oeps, nee wag die woord wat ek soek is “afhanklik van luxuries” - nie “mooi” nie.
Daar is egter nie tyd of geld vir ‘n spa dag nie (sien Black Friday & Takelot bo vir redes) en besluit die naaste wat ek daaraan gaan kom is ‘n bubble bath. Ek stop na werk by “The Body Shop” en verduidelik vir die meisietjie ek soek goete vir ‘n relax. Sy pak my mandjie vol olies en roompies en scrubs. My kredietkaart word so wit in die gesig. Op ‘n stadium laai die meisie sulke balle in my mandjie.
“What is this? What must I do with balls? Must I play with balls to relax?”
“No sir. They are bath bombs. You put them in the bath and it releases relaxing salts and fragrances. It’s perfect for relaxing in a bath.” Verduidelik sy. Ek’s bietjie skepties want ek kan nie sien hoe ‘n “bom” enige iets kan ontspan nie, maar sy weet seker waarvan sy praat. Ek swipe my kaart en hou daai BAIE lang sekondes my asem op wagtend of die transaksie gaan deur gaan. Help ook nie veel vir die stres nie, maar nou ja... Approved... Sug! Yay!
 
Jaag huis toe, tap ‘n bad water in, steek al wat ‘n load shedding kers is aan en verduidelik vir Die Ander Een in geen onduidelike terme dat ek onder geen omstandighede gesteur mag word nie. Bad vol water (ek sal more dubbel water spaar) staan en kyk ek my sak vol Body Shop ‘goodies’. Waar begin mens? Verseker die “bath bomb”! Die storie moet ek sien...


Ek bekyk die bal en sien geen aanwysings of iets nie. Net voor ek hom in die bad sit, bedink ek myself... As dit ‘n bom is gaan daar mos een of ander soort ontploffing wees, nie? Gaan hurk (sommer so in my Adams gewaad) agter die wasbak en gooi die “bath bomb” in die bad se rigting. (Ek is mos nou nie vreeslik sportief nie en kon eers na die derde probeerslag die bal in die bad kry.) Toe die bad bom uiteindelik in die water plons, loer ek verby die wasbak in afwagting, maar niks gebeur nie. Ek kruip versigtig handeviervoet nader. Dalk het die ding ‘n timer wat afloop voordat daar iets gebeur? Ek loer oor die bad se rand. Die bath bomb dobber net heen en weer. Niks gebeur nie. Wat ‘n antiklimaks! Dalk doen ek iets verkeerd... Ek roep Die Ander Een.
“Koe-ie! Weet jy hoe die ‘bad bom’ goete werk? Ek dink myne is stukkend.” Die Ander Een kom met ‘n sug die badkamer ingeloop en loer in die bad. Daar word verwoed oë gerol.
“Jy moet die plastic wrapper eers afhaal.” Sê Die Ander Een en skep die bal uit die water uit en trek ‘n deurskynende pampier van die bal af en gooi die bal weer in die water. Ek loer koes-koes oor die bad se rand. Daar is steeds geen ontploffing nie, maar nou fizz die ball verwoed – lyk of daar Enos aangemaak word.
“Nog iets?” Vra Die Ander Een duidelik dik van die lag.
“Het ek nie gesê ek wil nie gepla word nie?! Gaan net weg!” 



Ek wag dat Die Ander Een al giggelend uit is voor ek die sakkie ontspan goete weer oop pluk en nog bestanddele in die water gooi. ‘n Bottel Peppermint Candy Cane Bath Foam, ‘n spuit Vanilla Marshmallow Shimmer Mist, ‘n Moringa Fragranced Bath Bubble, ‘n bottel Almond Milk & Honey Calming & Caring Bath Milk  en so ook ‘n bottel French Lavender Massage Oil... ‘n Hele bottel olie? Fout. Ek klim in die bad (glas rooiwyn in die hand) – een oomblik staan ek nog, die volgende oomblik is ek plat op my rug; gly op en af in die bad soos ‘n slippery slide. My skok beentjie moer toe gestamp. Na wat voel soos ure kom ek uiteindelik tot stilstand. My elmboog is lam. Ek praat in tale. Ek probeer regop sit maar kry nêrens vasklou plek nie en gaan weer vir minute lank aan die gly. Nog ‘n dosyn blou kolle. So lê ek maar  en dobber in die bad, so bewegingloos moontlik, en bedink my lot. As ek weer beweeg stamp ek dalk nog my kop en verdrink hier in my eie badkamer in 10 duim water. Ek kyk hartseer hoe die rooiwyn sulke mooi patrone maak soos dit met die eksotiese olies meng. Ek weet nie wat van die glas geword nie. Ek hoop nie daai ongemaklike gevoel is wat ek dink dit is nie. 



Sug. Daar is net een uitweg as ek die gaan oorleef... Ek roep Die Ander Een. Eers saggies met die hoop dat my hulpkreet nie gehoor sal word nie. Maar ek besef dit gaan nie die probleem oplos nie en roep harder. Die Ander Een kom eventually ingestap.
“Wat nou weer? Moet ek jou help om ‘n proppie van ‘n bottel af te draai?”
“Ek weet nie of is jou sarkasme nodig nie...” Ek wil eers bitsig wees maar besef dis ‘n kwessie van lewe en dood en gaan my trots moet sluk. “Help my asseblief. Ek sit vas...”
Die Ander Een bekyk die situasie, die hoop leë bottels olies langs die bad en toe daar tot besef kom, volg die genadelose lag. Die Ander Een sak inmekaar van die lag. Ek bly maar stil en wag dat dit oorgaan. Teen die tyd is die water al yskoud, alles is klein en seer en my ego het waarskynlik iewers op die vloer beland. Maar ek bly stil, wat soos julle weet nogal ‘n uitdaging vir my is.
Toe die histerie uiteindelik verby is word daar ‘n handdoek se punt vir my gegooi en ek word (met moeite) soos ‘n vis uit die bad getrek. EK is so van die olie dat toe ek op die badkamer vloerteëls beland ek weer ‘n paar meter verder, sommer so op my maag en ander dele, gly en wat weer tot hernude histerie lei. 

“Is jy nou ontspanne?” Vra Die Ander Een deur die trane van al die lag.
“Ek het gesê ek wil nie gepla word nie. Voert net weg...” Sê ek saggies terwyl ek kyk hoe die laaste van my trots saam die olies in die drein verdwyn.

Riaan Palmer
Share: